Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hoofregter se boodskap van hoop kry staande applous

Suid-Afrika is by ’n keerpunt en die voortreflikheid van dit wat net om die draai wag, is so ongelooflik dat dit mense se asem sal wegslaan.

Met dié boodskap het hoofregter Mogoeng Mogoeng Donderdagaand ’n staande toejuiging gekry toe hy met die ambassadeursprys vereer is by Netwerk24, Die Burger en die Kaapstad Sakekamer se Sakeleier van die Jaar.

Mogoeng sê hy was byna in trane toe hy hoor van dié “groot eer”.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng.Foto: Simon Sonnekus

“Ek weet regtig nie wat ek gedoen het om só geseën te word nie,” sê hy.

Dit is nou 25 jaar nadat die nuwe Suid-Afrika tot stand gekom het, maar “ons het uitdagings soos grondonteiening sonder vergoeding wat wag op die horison,” sê Mogoeng.

“Daar is ’n mate van onstabiliteit, baie angs en ... ’n gebrek aan hoop. So, dis ’n oomblik vir diep nadenke – ’n tyd om oplossings te soek, maar (oplossings) gegrond in die waarheid. Dis nie ’n tyd om mekaar te mislei nie. Ons moet waarlik na blywende oplossings soek.”

Hy sê hy het vroeër vandeesmaand ’n afspraak met agt boere op die grens tussen Suid-Afrika en Botswana gehad. “Al wat hulle van my wou hê, is die versekering dat daar nog hoop is.

“Ek het al met soveel Suid-Afrikaners te doen gekry wat op die punt van opgee is. Boere is bekommerd: Banke is nie meer so gewillig om geld aan hulle te leen teen die waarde van hul plaas as kollateraal nie. Daarom word produksie op die plase ook erg gekortwiek.”

Mogoeng sê hy verteenwoordig die hoof van die derde arm van die regering (die regstelsel) en wil sakelui verseker dat “die soewereine stem, die stabiliserende hand, die stem van rede en die gewete van die nasie altyd gereed is om in te gryp wanneer onstabiliteit hom moontlik in die politieke been van die staat mag openbaar”.

Hy skerts dat hy nie werklik dink ons situasie is veel anders as in Amerika nie – “dit kan dalk beter wees”.

Hy praat van twee situasies: Die een is ’n land waar almal oor alles saamstem, maar dieselfde dinge verkeerd doen. Die ander kant is ’n land waar mense oor dinge verskil.

“Ek dink laasgenoemde is eerder ’n rigtingwyser na groter stabiliteit as die eerste.”

“Hierdie Suid-Afrika is ons kollektiewe familiehuis en familie loop nooit weg nie.”

Volgens Mogoeng het ’n “nuwe seisoen” vir die land aangebreek. Hy vergelyk dié oorgangstyd met ’n ma wat op die punt staan om ’n baba te hê, en sakelui wat weet hoe teenstand, frustrasie en soms die een bankrotskap ná die ander voel. Dit kom alles voor die groot deurbraak wat onafwendbaar is, sê hy.

Om sy prys te eer, het Mogoeng belowe om ’n ambassadeur van hoop, geregtigheid, vrede, stabiliteit en versoening te wees. Hy belowe ook om ’n ambassadeur van liefde te wees; ’n ambassadeur van heling, vergifnis, genesing – “ons land het genesing nodig”.

“Daar is geen sukses sonder pyn nie. Ons is by ’n kurwe en die voortreflikheid van wat net om die hoek wag, is so ongelooflik, dit sal jou asem wegslaan ... Moet dit nie waag om op Suid-Afrika op te gee nie. Die ondenkbare staan op die punt om te gebeur, net so ondenkbaar soos dit was vir ons (om) ’n grondwetlike demokrasie (te) word.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.