“Politici luister nie na mense se wense nie en dis ’n skande dat ons prokureurs moet gebruik sodat ons met waardigheid kan sterf, want ons behoort dit sonder hulle te doen.”
Só het prof. Sean Davison, voorsitter van DignitySA en president van die Wêreldfederasie van Verenigings vir die Reg om te Sterf, Vrydag in Kaapstad gesê.
Die Grondwet is ’n ooreenkoms in belang van ’n goeie samelewing wat minderhede se regte ook waarborg. Indien aangevoer word dat dit teen geloof is, kan die vraag gevra word: Wie se geloof?
Regerings luister nie na wat mense sê oor bystandsdood nie, terwyl wêreldwye meningspeilings wys dat mense ten gunste daarvan is.
Mense se lewens eindig op aaklige maniere, want die regte omstandighede word nie vir hulle geskep wanneer hulle terminaal siek is nie.
Volgens Davison is politici bang vir ’n omstrede kwessie soos die dood.
Prof. Willem Landman, ook van DignitySA en etiekkenner, het in ’n onderhoud gesê daar bestaan spanning tussen die gemene reg en die regte in die Grondwet.
Die gemene reg behoort aangepas te word. Die Grondwet bevestig dat ’n mens die reg het om self te beskik oor jou liggaam en sielkundige lewe, asook ’n vrye keuse en die reg op menswaardigheid het.
Deidre Carter, Cope-hoofsweep, het in Augustus ’n privateledewetsontwerp – die Wysigingswetsontwerp op Nasionale Gesondheid – by die parlement in samewerking met DignitySA ingedien. Die wetsontwerp omskryf ’n lewende testament.
Dit sal mense die reg gee om vooraf te besluit om mediese sorg te weerhou wanneer hulle die terminale fase van ’n siekte- of sterwensproses betree, en kan dan ook iemand aanwys om vir hulle te besluit.
Landman het verduidelik tegnies bestaan dit in Suid-Afrika, maar dit is nie behoorlik omskryf nie en daar is baie verwarring oor wat dit beteken.
Die wetsontwerp, sou dit aanvaar word, sal pertinent omskrywings gee sodat jy nou kan besluit wat met jou in die toekoms sal gebeur, soos wanneer jy onomkeerbaar bewusteloos is of terminaal siek is en ondraaglike pyn verduur sodat behandeling gestop kan word.
Hy sê in Kanada het die regbank die parlement opdrag gegee om wetgewing rakende mediese bystandsdood te maak en hulle hoop dat dit in Suid-Afrika ook sal gebeur. Dit is al 20 jaar gelede deur die Suid-Afrikaanse Regskommissie voorgestel.
“Al stem baie mense nie saam nie, is dit nie die punt nie. Die Grondwet is ’n ooreenkoms in belang van ’n goeie samelewing wat minderhede se regte ook waarborg. Indien aangevoer word dat dit teen geloof is, kan die vraag gevra word: Wie se geloof?”
Die ander argument is dat dit misbruik kan word. Daar is geen bewyse dat dit in enige van die lande waar dit wettig is, misbruik word nie. Genadedood is wanneer ’n mediese kenner die middel verskaf en dit toedien. Bystandsdood is wanneer ’n kenner die middel verskaf, maar die persoon dien dit self toe.