Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hoopstad bied hoop ná familie byna alles in brand verloor
Die Ludick- en Cornelissen-gesin se woonstel in Hoopstad nadat dit vandeesweek deur 'n brand in puin gelê is.Foto: Wimpie van Deventer

Skenkings stroom in vir ’n familie van Hoopstad nadat hulle Woensdagnag byna al hul besittings in ’n brand in die dorp verloor het.

Die Ludick- en Cornelissen-gesin sê hulle is verheug en dankbaar oor die skenkings.

’n Brand het skynbaar in die dak van die familie se woonstel in die ou hospitaal in Hoofstraat ontstaan.

Esmé Ludick en haar twee kinders, Layla en Amoré, het in die een gedeelte van die woonstel gebly, terwyl haar pa, Nollie Cornelissen, haar stiefma, Sanette, en Stefan, haar broer, in die ander deel gewoon het.

Esmé, ’n operateur by JB Sekuriteit, het aandskof gewerk toe sy oor die brand gebel is.

Nollie en Stefan het nadat hulle van ’n potspel-aand uit teruggekeer het, op die brand in hul woonstel afgekom, sê Esmé.

Hulle het die brand met water probeer blus en toe na Esmé se gedeelte gehardloop, waar Sanette en die twee kinders geslaap het. Die brand het ook daarheen versprei.

Die woonstel van buite gesien ná die brand. Foto: Wimpie van Deventer

“Ons kon ’n sitkamerstel en van die kinders se klere verwyder, maar alles ruik na rook.” Volgens Esmé kan die klere nie meer gebruik word nie.

Wimpie van Deventer, eienaar van die private sekuriteitsmaatskappy RiJan Veiligheid, sê hulle is eerste na die toneel ontbied en het saam met die munisipaliteit en gemeenskapslede gewerk om die brand te bestry.

“Die gemeenskap staan saam in sulke tye,” sê Van Deventer.

Hy sê niks kon meer uit die woonstel gered word nie.

Dit het ongeveer vier uur geneem om die brand te blus, sê hy.

Charles van Schalkwyk, een van die eienaars van die gebou, het bevestig dat hulle vir die familie ander blyplek gegee het.

Zibbie du Toit, sakebestuurder van die NG kerk in Hoopstad, sê dié gemeente het die gemeenskap via WhatsApp van die tragedie ingelig en mense gevra om die familie in hul nood by te staan.

“Die gemeenskap het hulle toegegooi met alles wat hulle nodig het om weer huis op te sit.”

Du Toit sê skenkings vir die familie stroom steeds in.

Nollie het namens die familie vir ds. Jacques Louw, RiJan Veiligheid, die Hoopstad-gemeenskap en almal wat gehelp het om die brand te bestry, bedank.

Kapt. Stephen Thakeng, ’n polisiewoordvoerder, sê die brand is vermoedelik deur ’n elektriese fout veroorsaak en dat daar nie ’n saak by die polisie geopen is nie.

Meer oor:  Ludick- En Cornelissen-Gesin  |  Hoopstad  |  Vlamme  |  Skenkings  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.