Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hou sambrele reg in sentrale binneland
Milde reën het Donderdag omstreeks 13:00 oor Louisvale, sowat 20 km buite Upington, uitgesak. Droë rivierlope het ná baie jare weer afgekom. Hier speel Jané Beukes (8) tog te lekker in die Rockdale-droëloop.Foto: Anena Burger

Inwoners in dele van die sentrale binneland kan hierdie naweek nog nie hul sambrele wegpak nie.

Goeie reën word vir die Noord- en Oos-Vrystaat en die sentrale en oostelike deel van Noordwes voorspel.

Michael Nethavhani, weervoorspeller van die Suid-Afrikaanse Weerdiens in Bloemfontein, sê verspreide buie en donderbuie sal die naweek in dié dele voorkom. Tot 20 mm reën kan uitsak.

Volgens Nethavhani word geïsoleerde buie en donderbuie die naweek, hoofsaaklik in die middag, oor die sentrale en suidelike deel van die Vrystaat verwag. “Inaggenome die huidige toestande en die boere se verwagtinge lyk dit egter nie na genoeg nie.”

Oor die noordoostelike deel van die Noord-Kaap, soos Postmasburg, Douglas en Kuruman, word geïsoleerde donderbuie nog Saterdagmiddag verwag.

Die tienjarige tweeling Zander en Ethan Bergström staan onder sambrele in die reën wat Donderdagmiddag in Upington in die Noord-Kaap uitgesak het. Pa Brandon het die foto op die Facebook-groep Reënval in SA geplaas. Foto: Facebook/ Reënval in SA

Hy sê tropiese vog wat van Angola afbeweeg het, het die reën vandeesweek na die sentrale binneland gebring.

“Noordwes het met verspreide tot wydverspreide buie en donderbuie wat die afgelope drie dae voorgekom het, die meeste reën gekry.”

Hy sê die provinsie het in dié tyd gemiddeld 50 mm reën gekry, met die uitsondering van ’n paar plekke waar 80 mm tot 90 mm reën geval het.

In die Vrystaat het die noordelike en noordoostelike dele soos Bothaville, Viljoenskroon en Koppies sowat 30 mm reën gehad, sê Nethavhani.

Cobus van Coller, wat op die plaas Libanon by Viljoenskroon boer, sê dié distrik en Bothaville het vandeesweek tussen 20 mm en 28 mm ontvang.

“Dit was lekker deurdringende reën. Niks het weggeloop nie.

“Die ouens wat al grond kon voorberei, sal nou kan begin plant. En dié wat nog nie voorberei het nie, sal nou kan,” sê Van Coller.

’n Kar se neus is Donderdag toe onder die vloedwater in Upington in die Noord-Kaap. Foto: Facebook/ Reënval in SA
Voertuie moes Donderdagmiddag deur Upington se strate swoeg toe blitsvloede ontstaan het. Foto: Anena Burger

Dié saai- en veeboer sê hy het al 40% geplant.

Nethavhani sê dit is nog droog in die sentrale en suidelike deel van die Vrystaat en ook langs die Lesotho-grens waar daar nie ’n regtig beduidende reënval was nie.

In die Noord-Kaap het dit Donderdagmiddag op plekke in die noorde gereën en blitsvloede het in Upington voorgekom. In dié dorp se strate was motors se neuse onder water en selfs ’n video het opgeduik waar iemand deur die strate swem.

Johann Kruger van Upington skryf op die Facebook-groep SA Reënvalverslae dat sy reënmeter Donderdag tussen 16:00 en 17:30 98 mm gemeet het.

Brandon Bergström sê hy het 77 mm reën in Upington gemeet.

“Dit het maklik sewe jaar laas so gereën. Die dorp is in ekstase en Maandag het ons ’n groot biddag gehad. So het Jesus Christus toe deurgekom.”

Corné Louw, senior ekonoom van Graan SA, sê:

“Ons is nog bekommerd oor die Noordwes-Vrystaat waar die meeste van die plekke nog nie voldoende reën gehad het om te kon plant nie.”

Louw sê produsente in die sentrale deel van die Vrystaat wag ook nog op voldoende reën, hoewel boere plek-plek reeds daar begin plant het.

“In die Oos-Vrystaat, waar die vensterperiode vir plant al redelik verby is, het ons baie welkome reën gekry.”


Meer oor:  Noord-Kaap  |  Weer  |  Reën  |  Oos-Vrystaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.