Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hougaard vs. Van Coke: ‘Ek is reg om te donner’

Die Afrikaanse rocker Francois van Coke sê musiek is vir eers eenkant toe geskuif en “boks is al waaraan hy dink” in aanloop tot die boksgeveg tussen hom en die oud-Springbok Derick Hougaard in Mei.

“My brein werk boks-oortyd op die oomblik,” het Van Coke, van Bellville, Dinsdagaand in Kaapstad op ’n mediageleentheid gesê.

“Dit is al waaraan ek dink. Ek dink die helfte van die tyd: ‘Hoekom?’ en die ander helfte: ‘Ek wil donner’,” het hy gesê.

Hougaard (38) van Pretoria, en Van Coke (40) het langs mekaar gesit en praat oor hul voorbereidings. Die geleentheid is ook bygewoon deur Hougaard se meisie, die sangeres Nadine, en Tian Fick, swaargewig-bokskampioen van Suid-Afrika.

Francois van Coke en Derick Hougaard. Foto: Jaco Marais

Die TV-aanbieder en Protea-netbalspeler Vanes-Mari du Toit was die aanbieder van die geleentheid.

“Dit is so ernstig soos kan kom,” het Hougaard gesê. “Ek moet steeds die gedagte verwerk dat ek iemand moet slaan waarvoor ek baie respek het. Dit is makliker om iemand te slaan wat jy nie ken nie.

“Hopelik slaan hy my nie uit in die eerste ronde nie.”

Van Coke sê hy neem dit ook ernstig op, maar “dit is nie ’n persoonlike ding” vir hom nie. “Ek gaan nie vir Derick kwaad wees nie, want dan verloor ’n mens jou cool.

“Dit gaan nie oor Derick nie. Dit is maar net iemand wat ek wil klop in ’n boksgeveg. Ek sal aggressief genoeg kan wees sonder om kwaad te wees.”

Francois van Coke skree oor die mikrofoon terwyl Derick Hougaard toekyk. Foto: Jaco Marais

Van Coke het erken dat hy straf voorbereidings moet doen vir die geveg teen Hougaard, wat veel langer en swaarder as hy is.

“Hy was ’n professionele sportman,” sê Van Coke. “Ek het vir 14 jaar f*kk*l gedoen behalwe drink. ’n Bar fight is ’n ander ding – as ’n mens nie lekker kan staan nie en dan probeer baklei, dan verloor jy baie makliker. En ek was gewoonlik die dronkste ou in die bar.”

Hy sê hy het onlangs kwaai pak gekry toe hy ’n skermsessie gehad het saam met sy vriend die musikant Frank Freeman.

“Ek is hard gedonner en toe wonder ek: ‘Hoe het ek hier gekom?’ Ek het musiek probeer maak en toe beland ek by ’n boksgeveg. Covid-19 is ook ’n groot deel daarvan, want ons het nie shows om te speel nie, nou boks ons maar.”

Hougaard het gesê hy en Van Coke is in dieselfde bootjie wat oefening betref. “Ek doen vir die laaste twee jaar niks nie, en hy die afgelope 14. Ek dink ons kry mekaar nou in die middel.

“Mense praat van spiergeheue. Maar daar is nie baie spiergeheue by my nie. My spiere het demensie. Ek oefen, die volgende dag voel ek wonderlik en die dag daarna kan ek nie opstaan nie.”

Die oud-Bok Derick Hougaard, Tian Fick, swaargewig-bokskampioen van Suid-Afrika, en die Afrikaanse rocker Francois van Coke. Foto: Jaco Marais

Hougaard het laat val dat hy heelwat gewig moet verloor voordat die vuiste begin swaai omdat hy en Van Coke ongeveer dieselfde moet weeg. Hy sê hy is dus op ’n streng dieet.

Op ’n vraag of Hougaard se lengte hom intimideer, het Van Coke gesê: “Die laerskool-rugbyafrigters sê mos altyd dat die groot ouens die hardste val”.

Die twee pak mekaar op 29 Mei om 17:00 in die Sun Arena by die Time Square Casino in Pretoria.

Ondersteuners sal hul gunsteling in uitgesoekte Nu Metro-fliekteaters kan ondersteun waar die boksgeveg uitgesaai sal word, of hulle sal dit tuis kan kyk as hulle kaartjies aanlyn teen R150 koop.

Benewens die boksgeveg sal daar ander vermaak ook wees.

Meer oor:  Francois Van Coke  |  Derick Hougaard  |  Boksgeveg  |  Vermaak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.