Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hugo, bel die polisie! Dís wat regtig gebeur het

Hy het sy vrou en kinders beskerm, sê Wynand Janssen, die man met die kunsbeen wat die motor agternasit in ’n veelbesproke video oor huismoles wat op sosiale media ontplof het.

In ’n podsending op Jacaranda FM gesels die radio-omroeper Rian van Heerden met “die ou met die afbeen”.

Dié groep huurders wat appels geswaai het in Pretoria-Noord, heet ook nou “Stompie en die Bokshombende”. Janssen lag maar net oor dié naam.

Hy sê aan Van Heerden hy het 25 jaar gelede sy been in ’n fratsongeluk by die werk verloor – “toe ’n 2-ton-forklift op my been geval het”.

Janssen het op die betrokke dag niksvermoedend in die huis gesit en het ’n flamink geskilder toe sy vrou hom roep. Hy het nie die bakleiery verwag nie, maar het gou ingeval en sommer die wit motor, wat kort daarna wegjaag, agternagesit.

“Nou hoekom het jy die kar probeer tackle?” vra Van Heerden.

“Ek wou hê hulle moes stop, hulle wou mos nou baklei,” antwoord Janssen. Hy is “dalk oud en kruppel”, maar sy hande makeer niks, sê hy. Nee, hulle was nié dronk nie.

Die video is ’n jaar en ’n half terug geneem. Hulle is ook twee maande ná die voorval eers uit, hoewel die vrou wat die video neem, herhaaldelik skreeu: “Julle is Maandag uitgesit!”

Maar waaroor het hulle baklei? wil Van Heerden weet. “Jong, dis eintlik die kinders . . .” Janssen se seun het ’n vrou en ’n kind. Sy seun is vriende met die blonde vrou in die video. “Die boyfriend – hy en my laaitie brom altyd vir mekaar as hulle mekaar sien. Hulle is baie lus vir mekaar,” sê Janssen. Hy dink dis jaloesie.

“Sy (die blondekop) en my seun het ’n dingetjie . . . ek weet nie, hulle het mekaar altyd gebel en goed.” Maar hulle is net vriende, hou Janssen vol.

Die blondekop se kêrel was egter nie oortuig nie. Hy het gedink Janssen se seun het ’n verhouding met sy blonde vriendin en hy het ’n paar vriende gaan haal om Janssen se seun ’n paar opstoppers te gee.

“En die kruk?” vra Van Heerden.

“Nee, dit was nie ’n kruk nie. Dit was ’n aluminiumpyp wat my vrou beetgekry het.”

As jy nou mooi sien: My tande is uit en my vuiste gebreek - ek het op ’n tyd (hard gedônner), maar ek het my bekeer, jy weet.

Maar wie het wie aan die hare gegryp? wil Van Heerden weet. “My skoondogter en die meisiekind. Die meisiekind wou glo my vrou getackle het omdat sy die laaitie geslaa’t het met die pyp of iets . . .”

Die vrou wat die video geneem het en vir ene Hugo geskree het om die polisie te bel – Janssen dink haar naam is Martie – is vriende met die verhuurder van die huis waarin hulle gebly het.

“Ek ken hulle glad nie. Ek het net vir haar gewys sy moet terug in haar yard gaan.”

“Sou jy sê julle het die fight toe gewen?” vra Van Heerden.

“Nee, ag, nee man, dit gaan nie oor die fight nie. Kyk, as hulle wou baklei het, moes hulle man tot man, nie klomp kinders gaan haal en tackle en goed nie.” Hy moes sy vrou en kinders beskerm.

Van Heerden vra Janssen of hy kan “hard dônner”, “want iemand sê toe jy uitkom, toe ry hulle”.

“As jy nou mooi sien: My tande is uit en my vuiste gebreek - ek het op ’n tyd (hard gedônner), maar ek het my bekeer, jy weet.”

Hulle het intussen getrek. Hulle bly lekker in die nuwe huis en hul bure hou van hulle.

“Gedra julleself nou, nè? Asseblief,” sê Van Heerden.

Janssen sê dis reg, “maar kyk, as moelikheid na jóú toe kom . . .”

“Het die polisie toe gekom?” vra Van Heerden.

“Ek wag nou nog vir die polisie.”

Meer oor:  Hugo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.