Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huis Davidtsz: Ons was in trane sê verpleegster

Al huis Davidtsz se stakende personeel was Saterdagoggend weer op hul pos en skenkings stroom nou in, sê Marie Schoombee, ’n stafverpleegster by dié Pretoriase tehuis vir bejaardes.

Inwoners het die afgelope week gely onder ’n loondispuut tussen werkers en die bestuur van Huis Davidtsz. Baie van die werkers het gestaak. Veral die toestande op die boonste vloere waar erg verswakte mense bly, was benard.

Vrywilligers daag Vrydag op om inwoners in Huis Davidtsz te help. Foto: Deaan Vivier

’n Verpleegster, een van die min wat nie gestaak het nie, het Vrydag vertel sy was reeds 12 ure aan diens. Sy moes inwoners voer, kos gee, doeke ruil en skoonmaak.

Die meeste van die 96 werknemers het aan die staking deelgeneem, terwyl enkeles die meer as 150 inwoners versorg het.

Schoombee het Saterdagoggend gesê alles is nou weer “rustig en kalm” by die tehuis. “Dienste gaan normaal voort. Ons kry nou baie besoekers wat skenkings bring. Hulle skenk komberse, doeke en kos. Dinge gaan nou baie beter hier.”

Volgens Schoombee was berigte dat van die inwoners drie dae aaneen geen kos gekry het nie, oordrewe. “Hulle het kos gekry, maar dis waar dat sekere aspekte soos skoonmaakdienste agterweë gebly het en dit daarom nie so skoon soos altyd was nie. Ons dokter was intussen ook hier. Die inwoners se wonde is versorg en hulle het medikasie gekry.”

Schoombee sê die gebeure die afgelope week was “baie sleg” vir die tehuis. “Ons was almal in trane.”

Skoonmaakdienste het in gebreke gebly tydens die staking die afgelope week by Huis Davidtsz in Pretoria. Foto: Deaan Vivier

Inwoners op die laer vloere het Vrydag vertel die stakers het hulle “redelik mooi behandel”, behalwe vir probleme met kos en badtyd. In sommige gevalle moes familielede hul pad deur die stakers oopdwing toe hulle van die omstandighede uitvind.

Hannes Noëth, hoof van Solidariteit Helpende Hand, sê talle bekommerde familielede het hulle ook gekontak oor die situasie, maar Solidariteit is Woensdag en Donderdag verhinder om die tehuis binne te gaan. Dit het ’n hofbevel en die polisie se hulp gekos voordat hulle Donderdagaand kon ingaan.

Van die stakers het gesê die loongeskil broei al ’n lang tyd. “Ek werk al vir byna tien jaar hier sonder ’n wettige kontrak,” het een vertel. “Ek het tot verlede maand

R1 700 per maand verdien. Dit is verhoog tot R3 500, voor aftrekkings. En toe word drie van ons kollegas geskors vir wangedrag.”

Justus de Goede, lid van die wetgewer in Gauteng en DA-woordvoerder vir maatskaplike ontwikkeling in die provinsie, sê daar is Vrydagoggend ’n skikking met die werkers bereik, op voorwaarde dat die onderhandelings Maandag voortgaan.

Meer oor:  Huis Davidtsz  |  Mishandeling  |  Ouetehuis  |  Stakers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.