Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huisstrukture skiet op buite Uitenhage

Plakkers in KwaNobuhle, net buite Uitenhage in die Oos-Kaap, het in net twee dae honderde strukture langs die R334 opgerig.

Dit volg nadat Mongameli Bobani, burgemeester van Nelson Mandelabaai, Vrydag gesê het geen uitsettings sal onder die leiding van die swart koukus gebeur nie.

Die raamwerk van honderde huisstrukture was Maandag in KwaNobuhle, langs die R334. te sien. Foto: Lulama Zenzile

Bobani het Vrydag ontstoke plakkers toegespreek nadat hul opslaanhuise, wat onwettig op munisipale grond gebou is, afgebreek is. Sowat 500 huisstrukture is glo in opdrag van die munisipaliteit afgebreek, het Netwerk24 vroeër berig.

Die plakkers sê egter daar was geen amptelike uitsettingsbevel nie. Hulle het toe paaie versper en betoog totdat Bobani met hulle kom praat het.

Met sy besoek het hulle gedreig om hul stemme in die opkomende verkiesing te weerhou as hy nie gehoor aan hul griewe gee nie.

Bobani het toe gesê hulle kan hul boumateriaal terugkry en weer bou.

Van links is Ntombikayise Mooi, Yonbiswa Gxekwa, Ntombizanele Bede, Ntombikayise Mzuza, Bongiwe Theodore Ngelo en Sozwe Zansiswa – van die voornemende inwoners wat Maandag hul nuwe huise opgerig het. Foto: Lulama Zenzile

Die naweek het honderde strukture verrys.

Voornemende inwoners het Maandag in temperature van tot 42 ºC pale geplant en planke gesny om hul huise op te rig, terwyl hulle net lof vir Bobani het.

“Bobani is nommer een!” het Bumulelo Khedama van KwaNobuhle Maandag gesê.

“Al die ander burgemeesters het belowe, maar niks gelewer nie. Nie (Athol) Trollip of (Danny) Jordaan nie. Nie eens (oudpres. Jacob) Zuma kon sy beloftes nakom nie. Maar onder (pres. Cyril) Ramaphosa gebeur die regte dinge uiteindelik.”

Mense het van ver met hul pale aangestap gekom om ’n raamwerk vir ’n huisstruktuur te begin bou. Foto: Lulama Zenzile

Khedama is glo al sedert 2000 op ’n waglys vir ’n huis en sê hy is, soos honderde ander mense wat in agterplase woon, dankbaar vir Bobani.

“Met Bobani wat gesê het ons kan voortgaan, is ons nie bang dat die munisipaliteit ons huise sal platstoot nie. Want Bobani is die burgemeester, hy is heel bo, hy is nommer een.”

Nog ’n man, wat nie sy naam wou gee nie, het gesê mense merk hul eie erwe uit.

“Nie te groot nie, net groot genoeg om ’n huis te kan bou. Hier is water, ons hoop om binnekort elektrisiteit te kry.”

Selfs donkies is gebruik om planke en pale mee aan te ry. Foto: Lulama Zenzile

Ntombikayise Mooi sê sy sal sonder water en elektrisiteit in haar nuwe huis woon, uit desperaatheid om aan die huis en erf vas te klou.

“Ons almal is net so bly en dankbaar vir Bobani, want nou kan ons elkeen ons eie huis oprig. As ek die burgemeester weer sien, sal ek hom sommer omhels.”

Volgens Mooi sal haar nuwe opslaanhuis haar red uit ’n klein huisie in iemand se agterplaas waar mense heeldag onder mekaar baklei vir plek in die huisie.

Maar Mooi erken die verkiesing dwaal in haar agterkop. “Al wat my nou bekommer is wat ná die verkiesing gebeur. Gaan ons huise dan weer afgebreek word? Was dit net ’n verkiesingsbelofte? Ek hoop regtig nie so nie.”

Mthubanzi Mniki, munisipale woordvoerder, het nie Maandag op navrae gereageer nie.

Die huisstrukture kom wyd verspreid langs die R334 in KwaNobuhle voor. Foto: Lulama Zenzile
Meer oor:  Mongameli Bobani  |  Kwanobuhle  |  Oos-Kaap  |  Grondgrype  |  Plakkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.