Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huiswerkers ‘kan nie van dié lae loon leef’

Een uit elke vyf huiswerkers verdien minder per maand as wat dit sou kos om ’n bakkie se tenk met brandstof te vul.

Dis een van die onthutsende feite wat na vore kom in ’n opname deur SweepSouth, die aanlyn platform waarop jy ’n huiswerker kan huur.

Die verslag word eers Sondag bekend gestel, maar Rapport het dit reeds onder oë gehad.

Die navorsing is tussen April en Mei onder 1 300 huiswerkers gedoen, waarvan sommige die SweepSouth-platform gebruik om werk te kry en ander nie. Die oudste respondent was 60 en die jongste 20 jaar oud.

Twintig persent van respondente sê hulle verdien minder as R1 000 per maand, 22% verdien tussen R2 001 en R3 000 en slegs 3% verdien tussen R5 001 en R6 000. Die meeste (34%) van die respondent se gesamentlike huishoudelike inkomste was maar tussen R2 501 en R4 000.

Huiswerkers se gemiddelde uitgawes lyk soos volg: R1 100 per maand aan kos; R115 per maand aan data of lugtyd; R1 136 aan huur; R279 aan elektrisiteit; en R455 vir vervoer. Skoolgelde beloop gemiddeld R744 per jaar. Hul gemiddelde maandelikse uitgawes is dus R3 147 per maand.

Aisha Pandor, uitvoerende hoof van SweepSouth, sê hulle het dié navorsing begin doen toe hulle agterkom watter gefragmenteerde beeld daar bestaan oor huiswerkers se inkomste en uitgawes.

Sy sê dit vorm ’n belangrike gesprek oor die debat tussen voorstanders van ’n minimum loon en dié wat ’n argumenteer vir ’n bestaansloon.

Ingevolge die wet op minimum lone wat 1 Januarie 2019 in werking getree het, is die minimum loon vir huiswerkers R15 per uur. Werkers in area A (wat die meeste stede en groot dorpe insluit) en wat minder as 27 uur per week werk, moet minstens R16,03 per uur kry. ’n Werker wat agt ure per dag vir vyf dae ’n week by dieselfde werkgewer werk, moet dus ’n minimum van R2 400 per maand verdien – ongeag hy of sy in die stad of platteland werk.

Dit beteken dat die minimum loon nie genoeg is om hul maandelikse uitgawes (wat gemiddeld R3 147 beloop) te dek nie.

Pandor sê sy dink nie dis ’n geval dat werkgewers doelbewus hul werkers te min betaal nie – hulle besef net nie dat dit wat hulle betaal te min is om hul uitgawes te dek nie.

“Mens kan ook verstaan dat mense nie altyd ’n voltydse werker kan bekostig nie. Die antwoord is om eerder so iemand minder dae per week te neem en haar dan die geleentheid te gee om ander werk te doen vir die ander dae of ’n platform soos SweepSouth te gebruik.”

Ander interessante statistieke in die verslag sluit in dat sewe uit tien huiswerkers enkelma’s is; die oorgrote meerderheid (79%) is die broodwinner en 43% werk tussen ses en sewe uur per dag.

Twee uit elke tien ondersteun ten minste vier mense finansieel. Die helfte gebruik taxi’s om by die werk te kom en net 63% van hulle voel gerespekteer en gewaardeer deur hul werkgewers.

Sowat 12 500 huiswerkers gebruik die SweepSouth-platform om werk te kry.

Malerato Mosiane, waarnemende hoofdirekteur vir arbeidstatistieke by Statistieke Suid-Afrika sê 15 000 huiswerkerposte het verlore gegaan in die eerste kwartaal van 2019.

Meer oor:  Lone  |  Huiswerkers  |  Sweepsouth
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.