Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde aan Kaapse kerkman (94)

Huldeblyke stroom in nadat dr. Dirk Hattingh (94), oud-leraar van die NG gemeente Stellenbosch-Welgelegen, op 3 April in die Silwerkruin-tehuis vir bejaardes in Wellington gesterf het.

Dr. Dirk Hattingh. Foto: cke.christians.co.za

Volgens die Kerkbode het Hattingh onder meer die NG gemeente Cedarville in Kokstad, die NG gemeente Standerton-Wes en in Heidelberg (destydse Transvaal) bedien. Hy was van 1988 tot 1991 die moderator van die Wes-Kaapland Sinode.

Hy en nog ander leier van die NG Kerk het ook gehelp met onderhandelings tussen aartsbiskop Desmond Tutu, dr. Allan Boesak en oudpres. FW de Klerk sodat ’n vreedsame anti-apartheidsmassa-optog in 1989 in Kaapstad kon plaasvind.

Hy het vier digbundels gepubliseer en was ook die voorsitter van die Huge­note Kollege se raad in Wellington en lid van die Universiteitsraad van Stellenbosch.

Hy is 1953 met Christerine Rossouw getroud. Die egpaar het vier kinders.

Sy seun, Dirk Hattingh jr., het in ’n e-pos aan Netwerk24 geskryf sy pa was ’n liefdevolle mens, sterk dog sag, wat respek afgedwing het en groot spore in sy gemeenskap getrap het.

“Meer belangrik egter was sy lewe as gesinsman en die liefde en wysheid waarmee hy en Ma ons grootgemaak het. Hulle was altyd beskikbaar, ondersteunend en het aan ons ’n kans in die lewe gebied.”

Volgens hom het sy pa se suster van Pretoria, Magrieta van Niekerk (84), vertel van sy pa se goeie humorsin en gereelde poetsbakkery in hul kinderjare, wat sy pa nie vergeet het nie.

“Ons dink met dankbaarheid aan die dag toe ons as uitgebreide familie, niggies en nefies, in die veld op ’n plaas gestap het toe hy met ’n ondeunde gesig ronde bokdrolletjies (wat hy in die veld opgetel het) aan die kinders gegee het in sy rooi Whispers-sjokoladeboksie (Whispers was ’n ronde sjokolade so groot soos ’n bokdrolletjie), onder die voorwendsel dat dit sjokolade was. Die chaos, lag en vreugde is maar een van baie sulke kosbaarhede en mooi herinneringe van ons Pa wat ons sal bybly.”

Ek het as ’n jong kollega by hom geleer dat ’n mens nooit laat of onvoorbereid by ’n vergadering opdaag nie.

Dr. Leon Fouché, ’n oudkollega wat in Jeffreysbaai woon, sê by navraag Hattingh se menslikheid, empatie vir mense, ’n wyse aanvoeling vir wat reg en billik is, en ’n ondeunde vrolikheid het gemaak dat hy in kritieke tye ’n kerkleier op die voorpunt was.

Nog ’n oudkollega en vriend dr. Thys Smith van Wellington sê by navraag Hattingh was konsensieus, noukeurig en stiptelik.

“Ek het as ’n jong kollega by hom geleer dat ’n mens nooit laat of onvoorbereid by ’n vergadering opdaag nie.”

Hattingh word oorleef deur sy vrou, Christerine (90), en kinders, Johan Hattingh, Irene Strydom, Chris Hattingh en Dirk Hattingh, asook 11 kleinkinders en ses agterkleinkinders.

Volgens Dirk jr. sal ’n begrafnis ná die inperking gehou word. Sy vrou woon steeds in die Silwerkruin.

Meer oor:  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.