Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde aan ’n ‘bakgat windgat’

Die gepaste inleiding vir ’n Volksblad-huldeblyk aan Ewie Cronjé, ’n legende in Vrystaatse sport én andersins, kan net kom uit ’n brief wat in November 2019 in die koerant verskyn het.

Johan Volsteedt met sy uittrede as hoof van Grey-kollege saam met Ewie Cronjé, oudleerling en later onderwyser aan dié skool. Foto: Argief

Tom Ferreira, self ’n oud-Volksbladder en ’n oudleerling van Grey-kollege, het ná ’n rubriek van Wilhelm Jordaan, ook ’n oud-Grey, geskryf oor onnies se byname aan die skool in sy tyd.

“En natuurlik, die een en enigste Ewie Cronjé, wat ’n bynaam vrygespring het, waarskynlik omdat ons soveel re­spek vir hom gehad het.

“Toe ouboet Stef ná my eerste dag op Grey by my wou weet wie my klasonderwyser is, kon ek nie op Ewie se naam kom nie.

“So ’n bakgat windgat,” het ek hom beskryf.

“O,” het Stef dadelik gesê: “Dit is beslis Ewie Cronjé,” het Tom geskryf.

Vele ander sou meer gepas wees as ’n afstandelike verslaggewer met terloopse blootstelling om ’n huldeblyk te skryf oor Nicolaas Everardus Cronjé (80) wat ná ’n laaste moeilike tyd gister in Bloemfontein oorlede is.

Boaan die lys van andere wat veel meer insigtelik hulde sou kon betuig, is gesinslede, Johan Volsteedt, vorige skoolhoof van Grey-kollege, en dan ook Volksblad-sportredaksielede oor die dekades heen.

Maar ek skryf dit namens Volksblad teen dreigende spertyd, uit die vuis (met bietjie hulp van die doolhof van ons elektroniese argiewe) en uit die hart.

Omdat Ewie ook ’n pad met Volksblad gestap het – en andersom.

Dit was ’n goeie pad, maar nie altyd maklik nie, omdat om nuusgewys inligting uit mense te kry op tye vir hulle moeilik is, altyd ongeleë is.

Soms laat dit ’n mens soos ’n indringer in ’n binnekring voel – en dalk andere se gebrokenheid meer intens beleef.

Soos die keer toe ek ná die dood van hul seun, Hansie, oudkaptein van die Protea-krieketspan, in 2002 welkom was in hul huis toe Papi Mokoena, destydse Mangaung-burgemeester, kom medelye betoon het.

Dit was ’n goeie pad, maar nie altyd maklik nie, omdat om nuusgewys inligting uit mense te kry op tye vir hulle moeilik is, altyd ongeleë is.

In die intieme kring het ek – as verslaggewer – San-Mari Cronjé se hartroerende gebed beleef en hoe Ewie sy vrou stilweg ondersteun het.

In die agtererf van Paul Kruger-rylaan 246 was nog merke in die betonheining soos die krieketballe waarmee Frans (hul oudste seun), Hansie en Grey-vriende jare tevore gespeel het dit ingeduik het.

Die dag tevore het “oom Ewie” my telefonies meegedeel as die vliegtuig (’n Hawker-Siddeley) waarin Hansie en ander oorledenes net ’n klein bietjie hoër gevlieg het, dit bo-oor die Outeniqua-berg by George sou gevlieg het en nie die hang getref het nie.

Dit bly by hoe die egpaar Cronjé en hul ander kinders (Frans en Hester) mekaar toe ondersteun het en hoe hulle liefderik van “Hansman” en “Bersie” (sy weduwee Bertha, later weer getroud) gepraat het.

Daardie pyn het deel van die Cronjés se lewe geword en hul Christenskap verdiep.

In ’n onderhoud met Volksblad het Ewie 15 jaar later gesê: “Dit is eintlik nog steeds so onwerklik. ’n Mens mis hom baie.”

Dit was nie net krieket nie, die sportsoort waarmee hy vereenselwig word, maar alle wedstryde.

Nes hul pyn weens die krieketknoeiery-debakel met Hansie as ’n hooffiguur in 2000 en 2001 en hul kind se vernedering deel van hul lewe geword het – en ouerliefde hulle deurgedra het.

Dié keer is die hartseer oor Ewie wat gister dood is.

Soos enige oud-Kovsie van desjare onthou ek “oom Ewie” met sy ruie donker wenkbroue wat as administrateur by die Universiteit van die Vrystaat se sportburo feitlik elke sportwedstryd bygewoon het – en almal geken het.

Dit was nie net krieket nie, die sportsoort waarmee hy vereenselwig word, maar alle wedstryde.

In my beginjare as ’n verslaggewer in Volksblad se sportkantoor, het die grotes onder wie ek gewerk het met agting en selfs bewondering gepraat oor “Nicolaas Everardus Cronjé” (soos Frikkie van Rensburg, latere sportredakteur, hom soms amper liefderik genoem het) en die uitsonderlike gawe van balvaardigheid­ waarmee hy geseën was. Noem maar die sportsoort.

Daarnaas was Ewie ’n geslypte sport-administrateur met ’n oog vir talent (hy het Kepler Wessels by Grey (primêr) raakgesien en Volsteedt van hom vertel), ’n geliefde mense-mens, ’n wandelende krieket-ensiklopedie, ’n knap orator (soos van ’n Kovsie-rasieleier verwag kan word) en ’n storieverteller van faam.

Georg van Eck, ’n latere sportredakteur, en ek het ’n keer gewonder oor die uitspraak van “Diocesan” – na aanleiding van die South African College School (Sacs) van Kaapstad – wat ’n Diocesan School is.

“Wag, ek bel gou vir Ewie. Hy sal weet,” het Georg gesê.

Inderdaad, as ’n mens nie geweet het Ewie is ’n Suid-Vrystaatse boerseun nie, sou jy kon sweer met sy fyn uitspraak en gesofistikeerde woordeskat het hy Engels aan die Eton-kollege in Windsor geleer.

* Coetzee is Volksblad se redakteur.

Meer oor:  Hansie Cronjé  |  Ewie Cronjé  |  Sterf  |  Kanker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.