Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde gebring aan VRU-werkers wat verongeluk
Foto’s van Eldar Mofo (52) en Tumi Morakile (43) op die gedenkdiens wat die VRU Donderdag vir hulle gehou het. Foto: Marita Herselman

Die twee werknemers van die Vrystaatse Rugbyunie (VRU) wat Saterdagaand ná die Vrystaat-Cheetahs se sege oor die Pumas in Bloemfontein in ’n ongeluk dood is, se lewe is Donderdag by hul werkplek herdenk.

Eldar Mofo (52) en Tumi Morakile (43), wat onderskeidelik 15 en ses jaar vir die unie gewerk het, se geliefdes het die middag in die Vrystaatstadion se presidentslosie vir die gedenkdiens saamgekom.

Linkie Bessinger het vroeër berig die vroue is Saterdagaand in Oranjesig, Bloemfontein, in ’n botsing reg van voor dood nadat ’n BMW in die taxi waarin hulle onderweg was, vasgejaag het. Die vroue het Saterdag ná die wedstryd in die stadion help skoonmaak.

Jeanette Mofama, nog ’n VRU-werknemer wat in die taxi was, is daarna met ’n gebreekte neus en gebreekte wangbene in die hospitaal opgeneem. Nog ander is in die ongeluk beseer.

Kollegas het huldeblyke vir die vroue gelewer, asook hul sibbe, Lerato Morakile en Paul Mofo.

MJ Smith, VRU se hoëprestasiebestuurder, beskryf die oorledenes as gelowige vroue wat ruiterlik Jesus as Koning verklaar het en hul lewensreis ten volle gehardloop het.

Harold Verster, uittredende uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs, het sy medelye aan die families betuig en uit Psalms 23 en 121 aangehaal.

Hy sê die goeie herinneringe van Morakile en Mofo sal gekoester word.

Die program vir Eldar Mofo (52) en Tumi Morakile (43) se gedenkdiens. Foto: Marita Herselman
Eldar Mofo Foto: Marita Herselman
Tumi Morakile Foto: Marita Herselman
Harold Verster, uittredende uitvoerende hoof van die Vrystaat-Cheetahs, lewer sy huldeblyk op Tumi Morakile en Eldar Mofo se gedenkdiens. Foto: Marita Herselman

“Tumi was daagliks in my kantoor – sy het in my kantoor gewerk en soggens met ’n glimlag en positiewe gesindheid ingekom.

“Sy was ’n ware vriendin en ek sal haar innig mis.”

Verster sal Mofo vir haar groot glimlag, vriendelikheid en hulpvaardigheid onthou.

Selwyn Colby, hoofbestuurder van die Vrystaat-Rugbyunie, het voor sy huldeblyk eer betoon aan nog kollegas en geliefdes wat die unie die afgelope ruk aan die dood afgestaan het.

Colby, wat ook vir Morakile by Dr. Blok in Heidedal skoolgehou het, beskryf haar as iemand wat elke dag dieselfde was.

Hy sê dié ma van ’n seun was ’n liefdevolle mens met ’n reusehart.

Mofo het altyd lipstiffie aangehad, onthou hy.

Colby verwys na die ma van drie seuns se windmakerige manier van stap.

“Sy was ’n skoonheidskoningin, daarom het sy so gestap.”

Randy September, skakelbeampte van die VRU, was onder diegene wat daagliks voor werk saam met Morakile gebid het.

“Sy het vir elke werknemer van die Vrystaat-Cheetahs gebid, sy het elkeen by die naam genoem en nooit iemand vergeet nie.”

Sy sê die vroue het hulle van vrede geleer.

Selwyn Colby, hoofbestuurder van die Vrystaat Rugbyunie praat op die gedenkdiens. Foto: Marita Herselman
Lerato Morakile, sê haar oorlede suster het haar geleer om te vergewe en haar lewe verander. Foto: Marita Herselman
Paul Mofo, Eldar Mofo se broer, lewer sy huldeblyk. Foto: Marita Herselman

Meer oor:  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.