Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde ná groot gees van Bloemfontein sterf
Kobus Snyman toe hy destyds 'n graad aan die Universiteit van Suid-Afrika ontvang het.

Kobus Snyman (79), ’n bekende inwoner van Bloemfontein en eertydse direkteur van die Rosestad se departement van parke en ontspanning, is dood.

Snyman is Woensdag in die plaaslike Mediclinic aan hartversaking dood, het sy vrou, Bertha, bevestig. Hulle was 47 jaar getroud.

“My hartseer oor sy afsterwe is groot, maar met die Here se hulp sal ek leer om daarmee saam te leef.”

Bertha het die hospitaalpersoneel geprys vir hul wonderlike bystand met haar man se siekte. Sy regterbeen is vroeër by die knie geamputeer.

Kobus is in 1938 in Mariental in Namibië gebore. Hy het in 1958 aan die Hoërskool Gobabis gematrikuleer waarna hy ’n tyd lank op die familieplaas gaan boer het.

Hy het ’n diploma in Staatsadministrasie aan die destydse Pretoria Technikon verwerf sowel as ’n graad in administrasie aan Unisa.

Hy is in 1976 as die adjunk-kontrolebeampte van die Bloemfonteinse munisipaliteit aangestel, waarna hy tot administratiewe kontrolebeampte bevorder is en van hier tot direkteur: Parke en Ontspanning.

In 1965 het sy eerste Kaapse verhaal, Kissie juwele, verskyn wat een van 13 boeke was wat hy geskryf het.

Die teel van sierduiwe was sy groot stokperdjie en hy het vir baie jare met Kings geboer.

Hy het verskeie pryse op die Bloemskou vir sy kampioenduiwe verower.

Huldeblyke stroom in

Hans Britz, DA-raadslid, het hulde gebring deur te sê Snyman was een van die mees miskende amptenare by die munisipaliteit omdat hy verantwoordelik vir Loch Logan was soos wat dit vandag lyk.

“ ’n Smal spruitjie het aanvanklik daar geloop, wat hy laat verbreed en uitgrawe het om die mooi omgewing te skep. “Hy het die grond gebruik om keerwalle te bou om die geraas van die Bloemfonteinse dieretuin af te keer.”

Britz sê Snyman het nog self vir hulle as departementshoofde gaan wys hoe die nuwe rugby- en atletiekstadion geskei kan word en waar die nuwe krieketstadion gebou kan word, wat toe so op die stadsraadsvergadering goedgekeur is.

“Die Bloemfonteinse dieretuin was sy trots en hy het uitstekend na die parkagtige omgewing op Naval Hill omgesien.”

Britz sê Snyman was ’n groot spanspeler by die munisipaliteit.

Elmarie Prinsloo, direkteur van Bloemskou, sê Bloemskou het ’n groot gees in die skou- en duiwebedryf verloor.

“Kobus was vol passie en het die twee bedrywe vir jare geesdriftig gedien. Hy was vir meer as 21 jaar ’n trustee van die Skougronde Ontwikkelingstrust.”

Hy was ook altyd ’n groot gees as ’n BBP in die presidentslosie by Vrystaat-rugby.

“Ek het so ’n mooi pad die afgelope tien weke saam met hom in die hospitaal geloop. Skou, duiwe en die Cheetahs was beslis sy lewe.”

Lourens Muller sê Kobus was een van die groot legendes van die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging en was vir 21 jaar die redakteur van die vereniging se nuusbrief.

“Ons was in die tagtigerjare saam Amerika toe om duiwe die land in te bring en groot skoue het onder sy leiding plaasgevind. Hy was fantasties met organisasie.

“Hy het ’n groenbaadjie wat omtrent gelykstaande aan ’n Springbokbaadjie is vir die teling, beoordeling en administratiewe werk by die Suid-Afrikaanse Sierduifvereniging verwerf. Sy naam is op die vereniging se “Hall of Fame” uitgegraveer.

Mense onthou Snyman ook vir sy stryd met die Estoire-hoewes by Bloemfontein, waar hy die voorsitter van die uitstel-verkopers was.

Snyman word deur twee dogters, Zelna en Wilma Snyman albei van die Kaap, oorleef.

Geen begrafnisreëlings is nog getref nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Sterfte  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.