Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde stroom in ná afsterwe van Maties-prof

’n Merkwaardige mentor, baanbreker en kampvegter is van die woorde waarmee prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel (60) beskryf word.

Prof. Mary-Anne Plaatjies-van Huffel. Foto: Argief

Plaatjies-van Huffel, wat verbonde was aan die fakulteit teologie van die Universiteit Stellenbosch (US), is Dinsdagmiddag dood. Sy het onlangs ’n operasie ondergaan en daar was komplikasies.

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier van US, sê Plaatjies-van Huffel was ’n waardeerde kollega.

“Plaatjies-van Huffel is einde verlede jaar bevorder tot vol professor en kerkreg. Sy was ’n gerekende kenner op hierdie gebied en ’n baanbreker. Sy was die eerste vrouepredikant in die VGK en NG kerk. Ons gaan die kollega mis en ons innige medelye met haar familie en kollegas,” sê De Villiers.

Reggie Nel, dekaan van die fakulteit teologie, sê Plaatjies-van Huffel het ’n merkwaardige baanbrekersrol gespeel in die kerklandskap in Suid-Afrika, ons vasteland en wêreldwyd.

Nel sê Plaatjies-van Huffel was die eerste vrou wat georden is in die voormalige Nederduitse Gereformeerde Sendingkerk (later die Verenigende Gereformeerde Kerk in Suider-Afrika), en is ook verkies as die eerste vrouemoderator van die Algemene Sinode van dié kerk.

Volgens Nel was sy ’n kampvegter vir sake soos swart teologie, vroueregte en transformasie, en het sy die kerk en Afrika verteenwoordig op talle terreine, onder meer in die Wêreldgemeenskap van Gereformeerde Kerke en die Wêreldraad van Kerke.

“Sy was ook ’n passievolle kerkhistorikus, kerkregkenner en pedagoog. Haar loopbaan aan die fakulteit teologie aan die Universiteit Stellenbosch het taamlik onlangs begin, maar sy het ’n onuitwisbare indruk gemaak op haar vakgebied en in die harte en gedagtes van haar kollegas en studente.

Plaatjies-van Huffel was ook die eerste swart vrou wat tot hoogleraar aan die fakulteit teologie van die US bevorder is, en hierdie merkwaardige prestasie sou later vanjaar erken word tydens haar intreerede as professor in Ekklesiologie,” beskryf Nel sy kollega.

Nel sê Plaatjies-van Huffel sal onthou word vir haar onwrikbare moed en haar groot hart. “Ons bring hulde aan haar opmerklike talente, prestasies en bydraes. Ons treur oor haar heengaan met haar man, ds. Dawid van Huffel, haar familie en vriende, ons fakulteitsgemeenskap en die breër kerkgemeenskap,” sê Nel.

Ons het baie by haar geleer oor hoe om ’n dominee te wees as vrou en hoe om ’n leier te wees.

Medelye het op Facebook ingestroom.

Dr. Carin Van Schalkwyk skryf, “Wat ’n hartseer dag! ’n Baanbreker, pionier en kerkmoeder het vandag gesterf. Ek eer jou Ma Plaatjies van Huffel. Jy was ’n inspirasie en voorbeeld vir almal. Mag jou gesing in hierdie dae self die Here se troos en bemoediging beleef en ervaar.”

Van Schalkwyk het Dinsdag aan Netwerk24 gesê sy en Plaatjies-van Huffel het mekaar in 1995 ontmoet en hulle het ’n gemaklike vriendskap gehad.

“Sy was vir ons ’n rolmodel. Ons het baie by haar geleer oor hoe om ’n dominee te wees as vrou en hoe om ’n leier te wees. Sy het ’n sagte en omgee hart gehad en baie hard gewerk. Die kerk is armer sonder haar,” sê Van Schalkwyk.

Richard Holloway skryf, “My hart is seer oor prof. Plaatjies. Ek ken haar wortels uit my eerste NG Sendingkerk gemeente in Niekerkshoop tot ’n formidabele professor en president van die Wêreldraad van Kerke. Sal haar kuiertjie by ons in St. Helenabaai nie vergeet nie.”

Prof. Christina Landman, 'n VGK-kollega en Plaatjies-van Huffel se PhD-studieleier, sê sy is verpletter oor Plaatjies se afsterwe. 

"Mary-Anne was my student, maar ook my mentor. Sy was die eerste vrou wat in die destydse NG Sendingkerk 'n doktorsgraad behaal het. Haar pad na leierskap in die kerk was moeilik.

"Maar ek het my altyd verstom oor hoe sy nooit iemand uitgewerk het nie, maar mense saam met haar geneem het om die kerk en die akademie te dien. Sy is 'n ware rolmodel vir al ons vrouepredikante in die kerk. 'n Uiters geleerde vrou wat almal omarm het. Ek weet nie wat ons sonder haar gaan doen nie."


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.