Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde stroom in vir Danny Titus wat ná koma sterf

’n Formidabele man, ’n hoë boom, ’n kampvegter vir Afrikaans en ’n stem van die nasie.

Dr. Danny Titus in 2012. Foto: Lerato Maduna

Só is dr. Danny Titus (63) ná sy dood Vrydag beskryf.

Dié regsman en kultuuraktivis se hart het op 28 Julie gaan staan ná ’n operasie om ’n katarak en bloeding van sy oë te verwyder. Hy was sedertdien in ’n koma.

Sy twee dogters, Daléne en Neriska, het hul pa se dood in ’n verklaring op Facebook bevestig.

“Alhoewel hy nie meer saam met ons is nie, is sy stryd vanaf die 28ste Julie nou verby. En hy kan sag rus met die wete dat hy ’n nasie beraak het met sy woorde, sy opinies, en sy ystersterk geloof in ekwaliteit en menseregte. En ook, dat hy oneindig gelief was. Dis hoe ek albei my ouers vanaand wil onthou. Gelukkig, dansend en bymekaar. Rus sag, Dad. Ons is lief vir jou.”

Hy het wye respek afgedwing. Suid-Afrika is armer sonder hom.

Neriska skryf: “Nou kan jy gelukkig saam met Ma in die hemel se velde dans.” Titus se vrou, Lynda (57), is sewe jaar gelede dood ná ’n lang kankerstryd.

Daléne sê haar pa was gaaf, intelligent en vrygewig. “Die nasie het ’n kragtige stem verloor. Ek is net ’n dogter wat na haar pa verlang. En dis wat ek altyd sal liefhê en koester. Danny Titus die pa, nie net die beeld nie.”

Titus het in Mei uitgetree as uitvoerende direkteur van korporatiewe aangeleenthede by die ATKV, wat hom beskryf het as ’n “formidabele” man.

Hy het ook poste by die Verenigde Nasies (VN) en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie beklee en in die eerste direksie van die Afrikaanse Taalraad ge­dien. Titus was voorsitter van die DAK Netwerk wat hom beywer vir die ontwikkeling van voorheen benadeelde Afrikaanse gemeenskappe. Danie van Wyk, tussentydse DAK-voorsitter, het gesê al was Titus lank siek, het hulle steeds gebid dat hy op die herstelpad sou kom. “Die Almagtige het dit nou anders besluit.”

DAK sal onder meer ’n Danny Titus-gedenksteen laat maak en verder op hul jaarvergadering op 10 Oktober bespreek hoe hulle nou en in die toekoms hulde aan Titus kan bring.

Prof. Michael Le Cordeur, hoof van die departement kurrikulumstudies aan die Universiteit Stellenbosch, was van studentedae af bevriend met Titus.

“’n Hoë boom het geval, al was hy klein in postuur. Ons gemeenskap het ’n steunpilaar verloor.”

Le Cordeur sê Titus was áltyd vriendelik, áltyd joviaal. “Almal was lief vir hom, want hy was reguit en eerlik. Jy het presies geweet waar jy met hom staan.”

Japie Gouws, voormalige besturende direkteur van die ATKV, sê Titus het ’n belangrike rol gespeel in die afgelope tien jaar “waar ons fokus by die ATKV was om die Afrikaanse gemeenskap se erfenisse en stories te ontgin en op te teken”.

Gouws sê Titus was ’n man met standpunte en dit was altyd lekker om met hom in gesprek te wees.

Alana Bailey, AfriForum se hoof van kultuursake, het gesê: “Danny was iemand wat nie van kontroversie weggeskram het as dit by beginselsake kom nie. Hy was iemand met ’n groot hart vir sy gesin, godsdiens, taal en kultuur. Hy sal gemis word en ons bid sy geliefdes in dié tyd troos toe.”

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, het ook sy hartseer uitgespreek. “Dr. Titus het wye respek afgedwing en hy was ook ’n groot kampvegter vir Afrikaans. Suid-Afrika is armer sonder dr. Titus.”

Meer oor:  Michael Le Cordeur  |  Danny Titus  |  Sterfgeval  |  Atkv  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.