Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulde vir ‘George se malva-tannie’

Huldeblyke stroom in vir Greta Gericke, oftewel “George se malva-tannie” en dogter van die politikus en mediese praktisyn dr. Karl Bremer, wat slegs 48 dae ná haar 100ste verjaardag dood is.

Gericke is verlede Donderdag omstreeks 20:00 in haar huis op die plaas Die Bof, buite George in die Suid-Kaap, dood.

Greta GerickeFoto: Verskaf

Karen Temmingh, haar dogter, sê haar ma is op 12 Oktober midde-in die Groot Griep van 1918 gebore. “Daardie Saterdag alleen is 500 mense in Kaapstad dood aan die griep.”

Gericke het in Graaff-Reinet grootgeword waar haar pa ’n mediese praktyk gehad het. Nadat haar pa parlementslid geword het en hom as oor-, neus- en keel-spesialis bekwaam het, het hulle na Rondebosch in Kaapstad verhuis.

Ná skool wou sy liggaamlike opvoedkunde (LO) studeer, maar die rigting was nie beskikbaar by enige Suid-Afrikaanse universiteit nie. Sy is Londen toe en het twee jaar aan die Dartford College gestudeer.

Sy het weens siekte teruggekeer na Suid-Afrika. Intussen is die kursus by die Universiteit Stellenbosch (US) ingestel. Sy was die eerste mens wat ’n LO-graad (vandag bekend as sportwetenskap) aan ’n Suid-Afrikaanse universiteit verwerf het. Sy het dit aan die einde van 1940 aan die US behaal.

In Desember 1942 is sy met Burger Gericke getroud. Hy het haar in 1989 ontval.

Sy sal veral vir die eienskappe vreugde, liefde en dankbaarheid onthou word deur almal wat haar geken het en wie se lewe deur haar voorbeeld verryk is.

Volgens Temmingh het haar ma “by feitlik elke skool in George” skoolgehou. Sy het in 1972 ’n BTh-graad (teologie) behaal en in 1999 op 80-jarige ouderdom ook die graad MA in kultuurgeskiedenis cum laude verwerf.

Gericke het tot 1972 vir Suid-Westelike Distrikte (SWD) hokkie gespeel. Sy is ’n lewenslange erepresident van SWD Vrouehokkie. In 1942 is sy gekies vir die Westelike Provinsie (WP) se provinsiale hokkiespan. Op 83 het sy ’n bronsmedalje vir swem op die nasionale swemkampioenskap in die afdeling 80 tot 90 jaar verwerf.

Sedert 2009 het sy George se strate met inheemse malvaplante versier. “Op 94 het sy steeds aan haar malva-beddings en -bakke gewerk,” vertel Temmingh. “Inwoners het haar die ‘malva-tannie van George’ genoem.”

Volgens Temmingh was haar ma se 100ste verjaardag “ ’n onvergeetlike naweek”.

“Sy sal veral vir die eienskappe vreugde, liefde en dankbaarheid onthou word deur almal wat haar geken het en wie se lewe deur haar voorbeeld verryk is.”

Gericke se begrafnisdiens vind op 15 Desember om 11:00 in die NG kerk Tuinedal in George plaas.

Sy word deur drie seuns, drie dogters, 25 kleinkinders, 31 agterkleinkinders en een agter-agterkleinkind oorleef.

Meer oor:  Greta Gericke  |  George  |  Dood  |  Sterfgeval  |  Huldeblyke  |  Malva-Tannie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.