Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huldeblyke stroom in vir mediese student wat sterf

Huldeblyke stroom in vir die student wat verlede naweek by die Walter Sisulu-Universiteit (WSU) in Mthatha na bewering deur medestudente doodgesteek is.

Lwando Mantshontsho (27), wat in sy sesde jaar van mediese studie was, is Vrydag in die vroeë oggendure dood in ’n onderonsie wat gevolg het op ’n partytjie Donderdagaand by die mediese skool se koshuis, het kapt. Dineo Koena, polisiewoordvoerder, gesê.

Lwando Mantshontsho (27), ’n mediese student aan die Walter Sisulu-universiteit (WSU) in Mthatha, wat verlede naweek doodgesteek is ná ’n partytjie in die mediese skool se koshuis. Foto: FACEBOOK

Vyf studente – Sindile Kango (21), Yamkela Mxokozeli (23), Siphesihle Mafungwa (21), Philani Dance (23) en Lwakhe Matakane (20) – het hulle die naweek aan polisie oorgegee.

“Die vyf het Maandag verskyn op aanklagte van moord en aanranding met die doel om ernstig te beseer,” sê Koena.

“Die saak is tot 24 Mei uitgestel en die vyf sal tot dan in aanhouding bly.”

Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, het Mantshontsho se gesin Dinsdag op Cofimvaba besoek, terwyl Blade Nzimande, minister vir hoër onderwys, ook sy medelye met die gesin betuig het.

“Die omstandighede rondom sy dood laat ons met skok en woede,” het Nzimande in ’n verklaring gesê oor Mantshontsho, wat in 2011 in sy matriekjaar gekies is as ontvanger van ’n studiebeurs as deel van die minister se Mandeladag-program.

“Dit is dubbeld tragies omdat hy byna klaar was met sy studie.”

Sy vriende het dit in huldeblyke op Facebook benadruk. “Dit is steeds moeilik om te glo . . . die verlies van ’n jong man wat hard gewerk het om ’n blink toekoms vir homself te verseker,” skryf Nhlakanipho Samkelo Mashele.

“Hy was toegewyd aan die verbetering van die samelewing en het gemeenskappe gehelp om toegang tot gesondheidsorg te kry,” skryf Bonga Gwengula van die gemeenskapsorganisasie Imbasa.

Geweld en onderbrekings in die akademiese program het op dié kampus ’n normale gebeurtenis geword, en dit is kommerwekkend.
Dr. Mzukisi Grootboom, voorsitter van die Suid-Afrikaanse mediese vereniging (SAMA)

“Die gemeenskap van Esikhobeni is dankbaar vir die rol wat jy in hul lewens gespeel het.”

Intussen het organisasies ook na aanleiding van Mantshontsho se dood optrede van die universiteit en selfs die president geëis. “Sy dood maak ons bewus van die gebrek aan sekuriteit vir studente,” sê Kasa Luvo, sekretaris vir Sasco se tak by die universiteit. “Ons vra kampussekuriteit – en dan moet dit gebruik word om ons te beskerm, nie om teen ons te veg as ons betoog nie.”

Dr. Mzukisi Grootboom, voorsitter van die Suid-Afrikaanse mediese vereniging (SAMA), het gesê Nzimande en pres. Jacob Zuma moet ondersoek instel na die voorval.

“Dié soort gedrag deur mediese studente is onaanvaarbaar,” sê Grootboom. “Geweld en onderbrekings in die akademiese program het op dié kampus ’n normale gebeurtenis geword, en dit is kommerwekkend.”

Tog is dit nie hul plek om die verdagtes in Mantshontsho se moord te veroordeel nie, sê Yonela Tukwayo, WSU-woordvoerder.

“As hulle na die kampus kom, sal ons briewe oorhandig om hulle tydelik te skors en die kampus te belet,” sê sy. “Hulle is egter in aanhouding en die polisie hanteer die saak. Om hulle uit die universiteit te skors, sou dieselfde wees as om hulle skuldig te bevind, en dít is die hof se reg.”

Die universiteit sal wel ondersoek instel en optree wat ander oortredings betref.

“Volgens ons inligting was daar baie drank betrokke, wat nie op ons kampus toegelaat word nie. Deure en diefwering is beskadig – en hieroor kan ons optree.”

Tukwayo het ook namens die universiteit medelye aan Mantshontsho se familie betuig. “Dit is vir ons baie hartseer om enige student te verloor, en sy familie het ’n seun met ’n belowende toekoms verloor.

“Ons skakel steeds met hulle om hulle te ondersteun, en om vas te stel wanneer hulle beskikbaar sal wees vir ’n gedenkdiens, hoewel WSU tans geen vaste planne gemaak het nie.”

Meer oor:  Sama  |  Huldeblyke  |  Doodgesteek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.