Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huldeblyke vir modeontwerper wat dood is in motorongeluk

Huldeblyke stroom in vir Donelle Fortuin (27), ’n bekroonde klereontwerper van Oudtshoorn in die Klein-Karoo wat Saterdag in ’n motorongeluk dood is.

Donelle Fortuin. Foto: Facebook

Fortuin het in die Huisrivierpas op die R62 tussen Calitzdorp en Ladismith gery toe sy blykbaar beheer oor haar BMW verloor het, volgens inligting van die Wes-Kaapse verkeersdienste. Die motor het toe by die berg afgestort.

Fortuin, ’n oudleerling van die Hoërskool Oudtshoorn, het haar eie klerereeks, Odon, gehad.

Clarice Cairncross, ’n vriendin, sê Fortuin het in April na Kaapstad verhuis. “Sy het as ’n handelsware-beplanner by The Foshini Group (TFG) begin werk. Sy was my beste vriendin.”

Die Hoërskool Oudtshoorn (Struisies) het onder meer in ’n huldeblyk op sy Facebook-blad sy meegevoel teenoor Fortuin se naasbestaandes uitgespreek. Volgens die skool sal sy onthou word as ’n ongelooflike mens. “Wat ’n groot leemte gaan jy nie laat nie?” lui die inskrywing onder meer. “Jy het soveel talent gehad, baie kreatiwiteit en soveel liefde gegee vir jou medemens . . . rus in vrede.”

In nog huldeblyke op Facebook het mense onder meer geskryf “die Here het sy mooiste blom kom pluk” en dat Fortuin ’n “pragtige mens” was.

Op Odon se Facebook-blad het Fortuin vertel dat haar liefde vir modeontwerp in die laerskool begin het toe sy prente uit tydskrifte gesny en in ’n boek geplak het. Later het sy agter haar ma gestaan wanneer sy naaldwerk gedoen het. Fortuin het toe gehelp om kussingslope of ander klein artikels te maak.

Donelle Fortuin. Foto: Facebook

Volgens inligting op die blad is die naam Odon deur Fortuin se bynaam, Donny, en haar tuisdorp, Oudtshoorn, geïnspireer.

Sy het modeontwerp aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie (KSUT) gestudeer en Odon in 2015 begin. In 2015 is sy aangewys as een van die 40 top-ontwerpers in Suid-Afrika in ’n kompetisie wat deur die Cape Town Fashion Council gehou is.

Die begrafnisdiens sal na verneem word Saterdag in die United Congregational Church of Southern Africa (UCCSA) in Oudtshoorn plaasvind, maar die tyd moet nog bevestig word.

Fortuin word onder andere deur haar ouers, Edmund en Marjorie Fortuin van Oudtshoorn, oorleef.

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Klein-Karoo  |  Motorongeluk  |  Modeontwerper
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.