Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Huldig Joshua met jou bloed
Die liefdadigheidsorganisasie Reach for a Dream het Joshua Castle (15) in Oktober verlede jaar met ’n reis na Comic Con-konferensie in New York in Amerika bederf.

Die 15-jarige Joshua Castle van Johannesburg was ’n Samaritaan wat graag liefdadigheidswerk gedoen het, selfs toe hy weens die galbuiskanker nie in staat was om daagliks langer as ’n uur op te staan nie.

Ná sy dood in Januarie het dit dus vir sy ma, Penny (47), sin gemaak om mense aan te spoor om bloed te skenk.

“Joshua is in Januarie 2017 met galbuiskanker gediagnoseer,” sê Penny.

“Dié kanker kom gewoonlik by mense ouer as 65 voor. Kinders is nie veronderstel om galbuiskanker te kry nie. Ek dink daar is
wêreldwyd nog net vyf gedokumenteerde gevalle van dié kanker onder kinders.”

Die dokters het gesê hy het twee maande oor om te lewe, maar Joshua het chemoterapie gekry wat sy pyn verlig en sy lewe verleng het.

Joshua was volgens Penny iemand wat graag gedien het. “Hy het net voor sy dood selfs by die Suid-Afrikaanse Stigting vir Kinderkanker (Choc) se Kerspartytjie gewerk.

Joshua in die Netcare Linksfield-hospitaal in Johannesburg.

“Joshua het sy vriende verlede jaar gevra om as verjaarsdaggeskenk vir hom kospakkies te gee wat hy aan die minderbevoorregtes uitgedeel het.”

Dié ma het die Bloody Birthday Challenge Facebook-groep begin om sy dood te verwerk.

“Hy sou op 13 April 16 jaar oud wees. Ek wou eers die 23 eenhede bloed wat hy tussen Januarie 2017 en 2018 ontvang het, insamel.

“ ’n Onderwyser by Crawford College in Sandton het my egter uitgedaag om méér as dit in te samel. So nou is ons doelwit om 364 eenhede bloed in te samel, vir die 364 dae wat hy ná sy diagnose gelewe het.”

Teen die afgelope naweek was daar reeds 91 skenkings.

Penny sê dié insamelingsprojek help haar om haar seun se dood te verwerk. “Nou gaan hy onthou word vir die verskil wat hy gemaak het.”

Joshua Castle (15) was aan die einde van sy lewe nie sterk genoeg om Crawford College in Sandton se prysuitdelingsfunksie by te woon nie. Die skool het Patrick McMahon, Ian Atteridge, Talitha Wiegant en Juliet Meyer na die Linksfield-hospitaal in Johannesburg gestuur om sy akademiese erekleure aan hom te oorhandig.

Joshua word deur sy ouers, Shannon (47) en Penny, en sy broer, Christopher (14), oorleef.

  • Indien jy dié projek wil ondersteun, kan jy ’n selfie op die Facebook-groep Bloody Birthday Challenge plaas, sodat Penny jou naam by die skenkerlys kan voeg.

Besoek die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddienstak (SANBS) se webblad om jou naaste bloedbank op te spoor.

“Dit neem net 30 minute van jou tyd om bloed te skenk.

“Moet asseblief ook nie net een keer skenk nie,” sê Penny.

“Die SANBS gebruik jou eerste skenking om die bloedplasmas te toets. Jou bloed is eers met die tweede skenking bruikbaar.”

Meer oor:  Johannesburg  |  Bloed
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.