Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Húlle op vrye voet oor Covid
Argieffoto ter illustrasie.

Talle verhoorafwagtendes wat van “minder ernstige misdrywe” aangekla is, gaan uit die land se tronke vrygelaat word.

Dit geld ook sulke mense wat nou tydens die inperkingstydperk aangekla word.

Dié besluit is geneem in die lig van die nasionale ramptoestand wat afgekondig is om die Covid-19-virussiekte te bekamp en het Dinsdag in die Staatskoerant verskyn.

Die beskuldigdes sal gewaarsku word wanneer hulle weer in die hof moet verskyn.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, het die opdrag gegee ná oorlegpleging met hoofregter Mogoeng Mogoeng “om die verspreiding van die virus in alle howe, hofgebiede en regsdienspunte te bekamp”.

Die aankondiging geld vir mense wat aangekla word van oortredings waarvoor polisielede en staatsaanklaers self borgtog mag vasstel, maar mense aan wie borgtog reeds toegestaan is vir ernstige misdrywe, mag ook vir vrylating op waarskuwing oorweeg word.

Maatreël al lankal deel van die reg

Dr. Llewelyn Curlewis, strafregprokureur en dosent aan die Universiteit van Pretoria, sê dié maatreël is eintlik al lankal deel van die reg, maar is in die verlede nie behoorlik toegepas nie, veral ten opsigte van die polisie se magte om borgtog vas te stel.

“Dikwels dink ek dit is miskien ’n manier om ’n gearresteerde so ’n bietjie in die selle te hou en so ’n bietjie af te knou tot die saak Maandag in die hof aangehoor kan word.”

Hy sê ook dit hou verband met sake wat nie ernstige misdade is nie of iemand in gevaar gestel is nie.

“Dis nie moordenaars en verkragters nie, want hulle moet per implikasie formeel om borgtog aansoek doen in die hof om te kwalifiseer.”

Diesulkes wat die hof egter reeds bevind het op borgtog vrygelaat kan word, maar dit nie kan betaal nie, kan egter ook vir vrylating oorweeg word omdat die hof reeds geoordeel dat hulle nie ’n risiko vir hulself of die samelewing is nie, sê Curlewis.

Luidens die aankondiging mag ’n landdros wel in die belang van geregtigheid gelas dat van die regulasies afgewyk word en iemand nié vrygelaat word nie.

Groot verwarring het juis in Wes-Kaapse howe geheers nadat hooflanddros Daniel Thulare verlede week in ’n skrywe opdrag gegee het dat howe onder sy jurisdiksie álle verhoorafwagtendes aan wie borgtog van R5 000 en minder toegestaan is maar dit nie kon betaal nie, op waarskuwing moet vrylaat.

Thulare het die lys saamgestel uit name van diesulkes wat hy van tronke in sy gebied, tot sover as Worcester, aangevra het.

Hy het toe glo opdrag vir hul vrylating gegee.

Ernstige geweldsmisdade

Hofpersoneel het vroeër die week gesê die meeste van die name op die lys is van mense wat op ernstige geweldmisdade teregstaan.

Bronne van die Goodwood-gevangenes het gister gesê op hul lys van 200 name is mense wat aangekla is van ernstige geweldmisdade van tot moord en selfs enkeles wat teregstaan weens gesinsgeweld en verkragting.

Thulare het egter gister ontken dat hy opdrag vir die vrylating van ál die mense gegee het en sê die R5 000 is bloot ’n riglyn vir landdroste en aanklaers. Hy staan egter by die riglyn.

“Ek is bewus daarvan dat waar borgtog vasgestel is, die misdryf gewoonlik van ’n ernstige aard is . . . (maar ook) dat die enigste rede hoekom sulke verhoorafwagtendes gewoonlik nog agter tralies is, is omdat hulle te arm is om die borgtog te kan betaal.”

Hy vertrou egter dat landdroste die veelvoudigheid van sekere misdrywe deur ’n oortreder en die beskuldigde se geneigdheid om dieselfde soort misdrywe te pleeg, in aanmerking sal neem.

“Dit sal nie wys van my wees om ’n lys te gee van misdrywe wat uitgesluit moet wees van vrylating nie.” Hy sê sorg sal gedra word met die oorweging van vrylating vir oortreders van ernstige misdrywe.

Meer oor:  Vrygelaat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.