Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulle ry fiets vir die Woord
’n Viertal van Bethulie sal mekaar aflos in die 36ONE-bergfietsresies dié naweek in die Oudts­-hoorn-omgewing. Foto: Coreli Roos

Vier boere van Bethulie beplan om van Vrydag tot Sondag die pedale te laat sing wanneer hulle hul ysterperde gaan opsaal en die 36ONE-bergfietsuitdaging in die Klein-Karoo aandurf.

Die 36ONE, wat in Oudtshoorn begin en eindig, word beskryf as “die ultimate enkel­fase-bergfietsresies in Suid-Afrika”. Die 361 km lange sirkelroete moet binne 36,1 uur voltooi word. Dit volg grondpaaie in die Oudtshoorn-, Calitzdorp- en De Rust­omgewing.

Die Vrystaters wat die afstand op ’n aflosgrondslag gaan ry, is die pa en seun Junior (58) en Sakkie Jacobs (27), en Henning Joubert (44) en Danie Haasbroek (52), vennote in die Driefontein-slagplaas. Die viertal is lede van die Leave a Lasting Legacy-groep, wat bestaan uit professionele fietsryers, asook diegene wat vir ontspanning ry.

Die groep beywer hom om die evangelie te versprei en fokus op die getal zero: “Ry vir dié rede – eendag moet daar ZERO onbereikte groepe mense wees.” Die geldinsamelingsveldtog is om die vertaling te help finansier van die Lukas-evangelie asook die klankbaan van die Jesus-rolprent vir ’n groep mense in Afrika wat nog nooit die evangelie in hul taal beskikbaar gehad het nie.

Die projek het sy oorsprong nadat Willem Lategan van Bloemfontein en sy vrou, Carin, gedurende ’n uitreik na ’n vervolgde kerk in ’n Noord-Afrika-land van ’n spesifieke stam gehoor het wat nie die Bybel in hul taal beskikbaar het nie. Die vier boere van Bethulie het met hul voorbereiding vir die fietsren begin nadat Willem, met wie hulle ook ’n sakeverbintenis het, hulle genader het om saam met die ander Leave a Lasting Legacy-deel­nemers aan die bergfietsresies deel te neem.

Deur Sy liefde word ons in staat gestel om iets te doen wat ’n verskil kan maak vir iemand anders . . .
Henning Joubert, fietsryer

“Ek het in die verlede die Argus gery, maar eers ongeveer twee maande gelede weer begin oefen nadat ek besluit het om te ry,” sê Junior. Sakkie, wat twee jaar gelede die Ysterman voltooi het, het ook onlangs vir die geleentheid begin oefen.

“Ek hou baie van fietsry, maar ry nie ernstig nie en ry gewoonlik net in vakansies. ’n Ou raak maar so ’n bietjie verroes,” sê Danie, wat ook sy fiets afgestof het.

Hy was sowat 30 jaar gelede op ’n sendingtoer van Bloemfontein na Pelgrimsrus. Hulle het die afstand in tien dae voltooi, en gemiddeld sowat 120 km per dag gery.

“God is liefde, en wie liefhet, is van God. Hoe kan ek liefhê en stil wees?” sê hy oor sy motivering om te ry. Hy spring Vrydag om 18:00 in Oudtshoorn weg op die eerste 80 km-skof en ry deur die nag.

“Dis ’n uitdaging met ’n missie,” voeg Ju­nior by.

Hy en sy pa, Sakkie, wie se doel met sy deelname is “om sy glorie onder die nasies te verklaar, sy wonders onder die mense”, ry die middelste twee 100 km-skofte.

“Hoekom skryf iemand wat onfiks is en ’n vol skedule het, in vir ’n resies wat verder is as wat hulle ooit gery het om geld in te samel vir iemand wat hulle nie ken nie? Dit kan net wees omdat jy iets verniet ontvang het wat jy nie verdien het nie en dit vir ewig kan hou. Deur Sy liefde word ons in staat gestel om iets te doen wat ’n verskil kan maak vir iemand anders en mag die eer gaan aan Hom wat ons liefhet meer as wat ons verdien,” sê Henning, wat hom tot die laaste 80 km verbind het.

Enigeen wat die ryers wil borg, sal hul name vind by www.leavealastinglegacy.org/riders/ en kan beloftes van hul bydraes daar lys. Nagenoeg 51 ryers van oor Suid-Afrika heen ry vir hierdie saak.

Meer oor:  Woord  |  Boere  |  Ry  |  Die  |  Hulle  |  Vir  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.