Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulp gevra ná padwoede lei tot man se dood
Die Smit-gesin: Van links is Alleigh (4), Ashleigh (25), Axyl (nege maande) en die 28-jarige Alan Smit.Foto: Facebook

’n Familie van Plettenbergbaai het uitgereik na mense op Facebook wat moontlik kan help met inligting oor die sinlose dood van Alan Smit (28) verlede maand.

Alan se suster, Jamie Smit (24), het Donderdag in ’n plasing op die Facebook-blad Knysna Knews gevra dat enigeen met inligting oor haar ouer broer se dood na vore moet kom.

Alan is op 23 Maart dood ná ’n voorval van padwoede op die N2 tussen Sedgefield en Knysna.

Jamie sê Alan se goeie vriend, wat saam met hom in die kar was ten tyde van die ongeluk, het aan haar vertel wat gebeur het. Die vriend wil nie sy naam genoem hê nie.

“My broer en sy vriend was van Sedgefield af op pad terug na Plettenbergbaai,” sê Jamie. “Hulle het vir ’n vriend gaan kuier en was tussen 20:30 en 21:30 op die pad.

“ ’n Bestuurder van ’n Corsa-bakkie wat agter hulle gery het, het sy ligte geflits en op onveilige tye probeer verbysteek,” sê Jamie.

“Toe die man uiteindelik verbygaan, het hy skielik rem getrap en stilgehou. Die bestuurder van die bakkie het uitgeklim, en my broer en sy vriend het ook.”

Jamie sê die man het moontlik koue voete gekry toe hy sien hulle is twee. Die ander man het toe teruggeklim en agteruit met sy bakkie gery.

“Toe tref sy voertuig se oop deur my broer en hy ry oor hom.”

Die man in die bakkie het weggejaag, sê Jamie.

Ashleigh en Alan by ’n waterval.Foto: Facebook

Alan se vriend het hom uit die pad getrek en ’n onbekende vrou het by hulle stilgehou en ’n ambulans gebel. Alan is hospitaal toe geneem met kritieke kopbeserings.

Dokters het hom breindood verklaar en haar ouers moes die besluit neem om die masjiene wat hom aan die lewe gehou het, af te skakel, sê Jamie.

Alan, ’n loodgieter, word oorleef deur sy vrou, Ashleigh (25), asook sy dogter, Alleigh (4), en seuntjie, Axyl (nege maande).

Op Ashleigh se Facebook-blad sê sy Alan was haar “held, beskermer, beste vriend, minnaar en alles tussenin”. Ashleigh wou nie met die media praat nie en het alle navrae na Jamie verwys.

“Hy sou enigiets doen vir sy kinders,” sê Jamie. “Hy het hulle Plettenbergbaai toe geneem vir ’n beter lewe. Hy het familie en vriende in Johannesburg agtergelaat om sy gesin na ’n beter omgewing te neem.”

Jamie sê die familie soek antwoorde oor wie by die voorval betrokke was. “Ons wil net seker maak dit gebeur met niemand anders nie,” sê Jamie.

Kommentaar van die polisie in Knysna sal bygewerk word sodra Netwerk24 dit ontvang.

Meer oor:  Padwoede  |  Knysna
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.