Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulp stroom in ná vloede in KZN, Oos-Kaap

Hulpverleningsorganisasies werk sedert Maandag onverpoos om verligting te bring aan honderde mense wat deur storms in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap haweloos gelaat is.

Mense dra hul besittings in swartsakke uit hul huise in Marianhill in KwaZulu-Natal wat hulle weens vloede moes ontruim. Foto: Reuters

“Die inwoners van Chatsworth en Umlazi het alles verloor. Hulle het letterlik net die klere wat hulle aangehad het voordat die vloedwaters hul hutte en al hul besittings vernietig het,” sê Xoliswa Phasiwe, ’n vrywilliger wat ’n afleweringspunt vir skenkings deur die publiek aan die vloedslagoffers by die stadsaal in Durban beman.

“Mense vra altyd in sulke omstandighede wat hulle aan die slagoffers kan gee, maar enigiets sal met ope arms verwelkom word – van klere en komberse tot skoene en tandepasta. Kos natuurlik ook. Mense het aan elke laaste stukkie van hul besittings vasgeklou wat hulle uit die vloedwaters kon red. Alhoewel dié mense met rede verpletter voel, glo ek dat hulle weer sal opstaan, die stukke optel en sal aangaan,” sê Phasiwe.

Volgens Maria Kemp, wat in beheer is van ’n afleweringspunt by ’n apteek in Howick, is die omvang van die verwoesting van die stormvloede enorm. “In sommige van die gebiede is kommunikasie heeltemal afgesny en paaie verwoes. Dit is veral Amanzimtoti, Chatsworth en Marianhill wat baie erg deurgeloop het. Hulp stroom in en ons is dankbaar vir al die sakke klere en komberse wat ons sedert Woensdag van die publiek ontvang het,” sê Kemp.

Volgens dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers werk vrywilligers hard om kos aan vloedslagoffers in KwaZulu-Natal en die Oos-Kaap te verskaf. “Ons verleen hulp waar ons kan om lyding te verlig, sodat mense so gou as moontlik kan begin om hul lewe te herbou. Finansiële hulp word ook verwelkom en word aangewend om mense van water, sanitasie en skuiling te voorsien,” sê Sooliman.

Wat hulpverlening aan vloedslagoffers vir Tumi Sole, stigter van die niewinsgewende organisasie Country Duty, die moeite werd maak, is die geleentheid om ander te kan help om weer op die been te kom. “Ons het afleweringspunte in verskillende stede soos Johannesburg, Kaapstad, Durban en Port Elizabeth waar die publiek skenkings kan doen. Ons werk ook saam met Uber om skenkings by mense se werkplekke en huise af te haal en dan by die verskillende afleweringspunte te gaan aflewer. Ons gaan môre (Saterdag) na twee families in KwaZulu-Natal wat jong kinders aan die dood afgestaan het om hulle met kos en klere by te staan. Mense wat in nood is, het altyd iets nodig om die lewe ’n bietjie beter te maak,” sê Sole.

* Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, het Vrydag gemeenskappe in KwaZulu-Natal besoek om hulpverlening te voorsien.

Meer oor:  Kzn  |  Oos-Kaap  |  Vloede  |  Reën  |  Oorstromings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.