Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulp stroom in vir 2 seuns wat ver stap vir hond

Die verhaal van die twee boeties van Philippi wat kilometers ver geloop het om hulp te kry vir hul baie siek hond, het mense se harte van sover as Australië en Nieu-Seeland geraak

Peter (regs, 14) en Gerry (8) by Meisie.

Dit het ook gesorg dat die twee seuns vir die eerste keer in hul lewe Saterdag ’n hamburger en skyfies in ’n restaurant geëet het.

Peter (14) en Gerry (8) Cedras se ouerhuis op die groenteplaas waar hulle bly, het onlangs afgebrand en sedertdien sukkel die gesin om kop bo water te hou.

Hul hond, Meisie, was dodelik siek aan bosluiskoors toe die twee verlede Woensdag met haar in die arms na die Philippi-tak van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika geloop het.

Gerry het die tog kaalvoet aangedurf. Peter het besluit om die R7 wat hy vir skoene vir sy jonger boetie gespaar het, eerder te gebruik sodat Meisie, ’n herdershond-kruising, behandel kan word.

“Die publiek se reaksie was fenomenaal. Ek ontvang boodskappe van mense van Australië en Nieu-Seeland wat wil help,” sê Allan Perrins, uitvoerende hoof van die vereniging.

Die twee boeties is deur die gemeenskap aangewys as ambassadeurs vir die vereniging. Perrins sê dit is ’n gepaste en besonderse prestasie.

Lede van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika by die Cedras-gesin op die plaas naby Philippi waar hulle woon.

Die vereniging is ook geloof vir die bydrae wat hy gelewer het om die boeties te help en om seker te maak dat die storie bekend word.

Perrins sê die vereniging se Philippi-kantoor is beskikbaar vir mense wat skenkings wil doen.

Daar is al soveel skenkings ontvang dat dit aan ander gesinne op die plaas gegee is.

“Meisie sterk goed aan. Sy is nog in ons sorg en die seuns het haar elke dag kom besoek,” sê Perrins.

Maar wat Perrins as “ongelooflik” beskryf, is die feit dat die boeties hul vriende aanmoedig om ook hul diere na die vereniging te bring.

Jacque le Roux van die vereniging omhels Peter Cedras.
Gerry en Peter Cedras by hul huis Saterdag met die besoek van die dierewelsynsvereniging.
Peter Cedras kry nuwe skoene van Crystal Fester van die vereniging nadat die storie tot baie skenkings gelei het.

Die Cedas-gesin is oorweldig deur die reaksie wat die storie ontlok het.

Perrins is huiwerig om bekend te maak wat alles al geskenk is, maar het gesê die seuns sal nie weer ’n bed deel nie, hulle het nou komberse, hulle sal nie weer by kerslig studeer nie, hulle sal nie weer hul kos met die hand eet nie.

Hy het gesê almal wat bygedra het, het hul lewe beter gemaak.

“Hul storie sal waarskynlik baie meer mense aanspoor om hul diere reg te versorg.”

Die seuns is Saterdag geneem om inkopies te gaan doen, en om ook vir die eerste keer ’n hamburger en skyfies te eet.

Mense wat belangstel om te help kan die vereniging skakel op 021 692 2627.

Meer oor:  Nieu-Seeland  |  Australië  |  Philippi  |  Hond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.