Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hulp stroom in vir pa wat net sy baba wil begrawe

Hy soek net ’n stukkie hout. Asseblief.

Nee, nie geld nie. Ook nie kos nie. Net hout. Hy moet ’n kis maak.

“Vir my kind… As ek asseblief hout kan kry om my kind te begrawe?”

Die man voor Christelle Campher-Du Toit was gebroke.

“Hy was netjies geklee, maar het so gebewe, so onsamehangend gepraat dat ek vir hom moes sê om te kalmeer,” sê sy.

Calvin Mahlangu met die kissie wat hy jare gelede gemaak het en bereid was om vir Arwin Maseko te gee om sy baba in te begrawe.

Hoe die man van Tembisa aan die Oos-Rand Dinsdag voor haar hondesalon in Wierdapark, Centurion, beland het, weet Campher-Du Toit nie. Haar onderneming was wel die enigste oop een in die blok, maar daar staan tog groot “Paw Palace Doggy Parlour” buite.

“Dit is ’n vreemde plek om te kom hout soek, maar ek dink die man was so desperaat, hy het by enige oop deur aangeklop,” sê sy.

Die man het sy identiteitsboekie uitgehaal om te wys hy is nie ’n skelm nie. Hy is Arwin Maseko.

“Hy het vertel sy vrou het gekraam. Dit was ’n dogtertjie. Iets het verkeerd gegaan en die baba is dood. En nou soek hy net ’n kissie vir haar, maar kan nie een bekostig nie.”

Sy het hom R250 aangebied. Die man wou dit nie hê nie. Regtig nét hout.

Campher-Du Toit het toe maar sy besonderhede geneem vir ingeval een van haar kliënte iemand ken met hout.

“Sjoe, daardie man se gesig het my die aand gery. Ek kon nie die voorval afskud nie,” erken sy.

Sy het op die Facebook-groep People who live in Centurion area ’n hartsnoodroep geskryf van die pa wat net hout soek vir ’n kissie.

Harte en hande het oopgegaan.

Een van die eerstes wat gereageer het, was Calvin Mahlangu, ’n timmerman van Atteridgeville, wes van Pretoria.

Hy het so vier, vyf jaar terug ’n kursus gedoen en daar moes onder meer ’n kissie as deel van die kursus gemaak word. Dié was nog iewers weggebêre. Dis egter nie baie groter as ’n skoenboks nie, hoe groot is die baba, het hy gevra.

Campher-Du Toit het teruggeskryf: “Stillborn”.

Mahlangu sê sy hart het gebreek toe hy die Facebook-plasing sien.

“Die ou soek net ’n kis! En ek het een. Almal van ons trek swaar, maar my hart kon dit nie so los nie. Toe kontak ek hierdie vrou wat ek van geen kant af ken nie,” sê hy.

Christelle Campher-Du Toit by wie Arwin Maseko kom hout soek het vir ’n kissie.

Mahlangu het aangebied om die kissie na Campher-Du Toit te bring, klein genoeg om onder sy arm te dra.

Maseko kon egter nie in daardie stadium soontoe kom nie. Hy moes na die staatshospitaal om sy baba se lykie te gaan aantrek en sy vrou te kry.

“En sowaar, toe gaan iemand anders wat die Facebook-plasing gesien het, hospitaal toe en vat ook ’n kissie vir Arwin,” sê Campher-Du Toit.

Mahlangu het toe sy kissie gehou “vir iemand anders, eendag”.

Hy wou egter steeds help. Hy het kos ingesamel en by Maseko in Tembisa gaan aflaai sodat daar darem iets te ete ná die begrafnis is.

“Die man is werkloos. Hy en sy vrou bly in ’n plakkershuis. Hy het gesê hulle het nie familie in Gauteng nie; niemand wat kan help om die kleintjie te begrawe nie.

“Hy was flenters,” sê Mahlangu.

’n Plaaslike begrafnisondernemer het aangebied om die dogtertjie gratis te begrawe.

Van die ander Facebook-gebruikers het blomme en kos geskenk, begrafnisbriefies, ’n bederf-pakkie vir die mamma.

Maseko is oorweldig. En stukkend. Sy tweede sin as hy die foon antwoord is ’n rou fluister: “I can’t speak. I lost my baby. It is my first baby. On Saturday.”

Dan snik hy só dat iemand anders die foon vat en sê: “Sorry. He cannot speak”.

Woensdagmiddag om 13:00 is die baba begrawe. Met waardigheid. In ’n houtkissie.

Meer oor:  Oos-Rand  |  Tembisa  |  Centurion
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.