Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Droogte-hulpkreet, toe help 1980 se matrieks

Toe ’n vrou sien hoe swaar trek haar oudskoolmaat en boervrou weens die droogte op ’n plaas in die Noord-Kaap, het sy hul matriekklas van 1980 opgekommandeer en binne drie dae R30 000 ingesamel.

Johan Nel gee sy skape voer.

Carin Nel en haar man, Johan, boer met skape op Koranderkolk naby Kenhardt.

Nel en Hetta Saunderson was saam in die koshuis van die Hoërskool Swartland in Malmesbury. Ná al die jare hou die matrieks nog kontak deur ’n Whats­App-groep. Dit was Saunderson wat die bal aan die rol gesit het nadat Nel gevra het of sy iets op die groep kan opveil om geld vir die distrik te help insamel. Haar suster, Susan Pietersen, wat by ’n groot wynkelder in Malmesbury werk, het ’n kissie wyn geborg gekry.

Nel sê die boere in die Kenhardt-streek is baie afhanklik van skenkings. “Hulle kry geldelik en emosioneel swaar. Jy leef maar klein, want die diere moet kos kry.

‘Jissie, ek is in trane?.?.?.’

“Ek het skaars die boodskap gestuur, toe sê Hetta: ‘Gaan groot!’ Toe ek weer hoor, toe is my oudklasmaats aan die bie!

“Een vriendin bie R2 200 en toe betaal sy sommer die geld in. Toe hoor ek, nou gaan álmal hul biegeld inbetaal! Toe tieng-tieng my foon so. Jissie, ek is in trane . . . Johan, my man, sê: ‘Carin, ek glo nie wat ek sien nie. Dis omgeemense. Om te dink van die mense het jy matriek laas gesien. Dis mense met goue harte.”

Saunderson sê die WhatsApp het sommer “gebewe” soos die klasmaats gebie het.

Johan en Carin Nel.

“Uit die bloute vra iemand toe: Maar hoekom skenk elkeen nie sommer daardie geld wat hy of sy bie nie? Almal het ingestem, en gou het ons op R15 000 gestaan, toe R20 000, en toe ons weer kyk, is dit R30 000! Ek sê toe vir Carin: ‘Julle moet mielies koop.’ Sy het gevra dat die geld in die Kenhardt-landbouvereniging se rekening inbetaal word.”

Saunderson is baie ingenome met haar klasmaats se reaksie.

“Ek het as kind ook op ’n plaas gebly. Ek het gesien hoe bekyk my pa elke wolkie. Die skaap moes die skulde betaal. Toe was dit ook soos nou: kurkdroogte.”

Hetta Saunderson

Intussen het die oudleerlinge begin om ook “boksies bederf” vol te maak om aan Kenhardt se boervroue te gee. Saunderson sê ’n man het haar uit Pretoria gebel en net gesê: “Ek stuur vir jou R600. Maak twee boksies vol.”

Benewens die droogte probeer die Nel-egpaar ook nog die dood van hul middelste seun in ’n ongeluk verlede jaar verwerk.

“ ’n Mens kan nog die droogte aanvaar, maar nie die dood van mens se seun nie,” sê Nel.

Carin Nel en Hetta Saunderson in 1980, hul matriekjaar.

Michael van Niekerk, voorsitter van Kenhardt se landbouvereniging, sê die oudskoolmaats se skenking van mielies gaan ’n geweldige verskil maak. “Ons het juis nóú kragvoer vir die skaap nodig. Ons sal in die komende week vir elke boer hier darem ’n paar sakke mielies kan gee.”

Meer oor:  Carin Nel  |  Hetta Saunderson  |  Johan Nel  |  Kenhardt  |  Droogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.