Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hy het geweet wat hy doen,’ sê kelnerin oor fooitjie

Die 23-jarige kelnerin van Wellington wat vroeg Sondagoggend ’n fooitjie van R19 621 by ’n kroeg in die Paarl gekry het, sê die man wat die geld vir haar gegee het, het mooi geweet wat hy doen.

Die strokie waarop Lisa* se astronomiese fooitjie gesien kan word.

Netwerk24 het vroeër berig ’n man van in sy 30’s het aanvanklik aangebied om vir Lisa* ’n fooitjie van R1 miljoen te gee nadat sy hom en sy twee vriende in Breezy Hill, ’n kuierplek naby die Paarl, bedien het.

* Lees meer daaroor hier: R100 toe al wat oorbly van enorme fooitjie 

Ná berigte oor die groot fooitjie, wat toe later deur die kroeg aan die man terugbetaal is omdat sy vrou dit teruggeëis het, het Lisa gehoor hoe die voorval op verskeie radiostasies bespreek word.

“Baie mense het aangeneem hy het ’n fout gemaak en per ongeluk soveel betaal. Maar ek is doodseker, hy was nie dronk nie en het dit beslis met opset gedoen.”

Lisa sê toe die man aandring op die groot fooitjie, het dit vir haar gevoel soos haar “Cinderella-oomblik”.

“Ek werk al só lank, só hard om vir mense die beste diens te gee en op ’n eerlike manier geld te verdien. Hy het vir my gesê hy wil vir my ’n ‘stappie vorentoe’ in die lewe gee met die geld.”

Sy het eers getwyfel of hy ernstig is, maar hy het daarop aangedring dat sy die fooitjie moet neem.

Ek het gehoor hy het vir mense gesê sy lewe is omvergegooi. Hy kan blykbaar nie eet of slaap nie. Ek dink net hy het dit alles aan homself gedoen

“Dit het my opgewonde gemaak omdat ek reeds begin dink het wat ek met die geld kan doen,” sê Lisa. Sy sê sy wou die geld gebruik om ’n mediese spesialis te gaan sien wat kon help met ’n veltoestand wat haar al sedert haar kinderdae pla.

Sy sou ook die geld gebruik om van haar studieskuld af te betaal.

Lisa sê Maandag was vir haar ’n besonderse goor dag, onder meer omdat sy gehoor het sy gaan nooit die geld sien nie.

“Dit het gevoel asof ek een tree vorentoe gegee het, en tien treë terug.”

Lisa het ook gehoor hoe mense bespiegel dat die man dalk ’n “spesiale gunsie” in ruil vir die groot fooitjie van haar wou hê.

“Hy het my op ’n kol eenkant geroep, maar ek het nie saamgegaan nie. Ek is glad nie daardie tipe meisie nie. Dit sou nooit gebeur het nie.”

Lisa sê sy het gedink die man is haar “fairy godfather”, maar eintlik was hy net “ ’n wolf in skaapsklere”.

Volgens Lisa het die man, wat sy voor Saterdagaand nog nooit voorheen ontmoet het nie, haar nog nie probeer kontak nie.

“Ek het gehoor hy het vir mense gesê sy lewe is omvergegooi. Hy kan blykbaar nie eet of slaap nie. Ek dink net hy het dit alles aan homself gedoen.”

* Lisa is ’n skuilnaam.

Wat is haar regte?

Vrae het ontstaan oor of die kelnerin in elk geval die fooitjie moes ontvang, ten spyte van die kwaai vrou wat dit by die kroeg terugeis.

Michael Bagraim, ’n arbeidsprokureur van Kaapstad, sê indien daar ooggetuies is wat kan getuig dat die man by sy volle positiewe was toe hy die fooitjie gegee het, kan die kelnerin moontlik regstappe oorweeg.

“Maar as die man besope was, en as ander kan getuig hy was nie heeltemal in beheer van homself nie, kan dit daarop dui dat die transaksie geregtelik omgekeer is,” sê Bagraim.

“Die feit dat die man se vriende ’n poging aangewend het om hom te keer, en dat hy hulle geïgnoreer het, dui daarop dat hy moontlik nie bedoel het om die groot bedrag as ’n geskenk te gee nie.”

Die kelnerin het volgens Bagraim steeds die opsie om te eis dat die saak ondersoek word.

Meer oor:  Wellington  |  Kelnerin
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.