Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hy het mý moed gegee’

Graham Clarke se versorger, Leslie Baaitjies, het net vinnig weggeglip om Weet-Bix te gaan haal wat hulle vir eende wou voer, toe die ergste gebeur.

Die plek waar Graham in die water geval het. Foto’s: Edrea du Toit

Graham (60), wat sedert 1984 vanaf sy ken verlam is ná ’n erge beroerte, het vasgegordel in sy rolstoel in ’n kanaal in Century City in Kaapstad beland en verdrink.

Hy was die lewensmaat van Margot Luyt (71), aktrise en radiopersoonlikheid.

Baaitjies, wat Graham 15 jaar lank versorg het, het vergeefs probeer om sy beste vriend se lewe te red.

‘Leslie was soos ’n broer vir hom.’

Dit is nie duidelik hoe Graham in die water beland het nie, maar sr. Annette Chell, ’n versorger by die Eric Miles Che­shire-tehuis in Milnerton, waar Graham sedert 1986 versorg is, vermoed hy het ’n beroerte gekry en dat dit sy rolstoel geaktiveer en hy só in die water beland het. Volgens Chell ontvang Baaitjies traumabehandeling vir die voorval Woensdagmiddag.

“Leslie was so braaf, en het so hard probeer om vir Graham met rolstoel en al uit die water te kry, maar dit was ’n onmoontlike taak,” sê Chell.

Graham het ná die beroerte aan inkluissindroom gely – ’n toestand wat al die liggaam se bewegingsfunksies buiten die oë aantas en verlam, al funksioneer die brein perfek.

Margot Luyt en Graham Clarke saam met Luyt se kleinseun, Stephan Landman, en Clarke se versorger, Leslie Baaitjies, wat Dinsdag Clarke se lewe probeer red het.

Hy het sy rolstoel beheer via ’n toestel by sy ken en ’n infrarooistelsel wat met sy oë geaktiveer kon word.

“Leslie was soos ’n broer vir Graham,” sê Justin Clarke, Graham se broer. Hy woon in Ierland en is in Suid-Afrika vir sy broer se roudiens.

“Hy (Baaitjies) was die laaste paar jaar nie net sy beste vriend nie, maar ook sy arms en sy bene. Ons is net dankbaar dat Graham vir Leslie gehad het en is diep geraak oor hoe hard hy probeer het om sy lewe te red.”

Justin het Luyt op haar beurt as ’n geskenk uit die hemel in Graham se lewe beskryf.

Justin Clarke, Graham se broer.

“Ná ons ma, Jane, se dood in 2011 het Margot oorgeneem en Graham se lewe so gemaklik moontlik gemaak.”

Graham se dood volg net twee weke nadat sy ook ’n broer aan die dood moes afstaan.

Luyt, by wie Parkinson se siekte twee jaar gelede gediagnoseer is, het verlede jaar, toe sy met Rapport oor haar siekte gepraat het, gesê Graham is die een wat haar moet moed inpraat.

Justin sê sy broer was iemand wat gesellig en charismaties was, “voor hy in ’n rolstoel was, maar veral ook daarna”. Hy het die aansteeklikste glimlag gehad. “Enigiemand wat hom ontmoet het, het weggegaan met ’n beter perspektief oor die lewe en hoe om dit te hanteer. Hy was die perfekte voorbeeld van iemand wat iets kon maak van sy lewe, ten spyte van dit wat oor sy pad gekom het.”

Graham se roudiens vind Dinsdag in die tehuis plaas.

Meer oor:  Gestremdes  |  Verdrinking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.