Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hý is slagoffer, sê vermeende data-dief

Die man wat daarvan verdink word dat hy miljoene Suid-Afrikaners se persoonlike inligting onder vals voorwendsels by die kredietburo Experian bekom het, sê hy is ’n slagoffer van ’n smeerveldtog.

Dié inligting het later op die internet beland.

Experian beskuldig Karabo Phungula (35) van Soweto daarvan dat hy hom as ’n direkteur van ’n bestaande kliënt voorgedoen het om die selfoonnommers en ander kontakbesonderhede van meer as 25 miljoen kredietgebruikers te bekom. Experian het dié inligting aan Phungula verskaf, asook die bankrekeningnommers van 24 800 sakeondernemings.

Phungula is die eienaar van Hi-Pixel Communications, wat persoonlike inligting insamel en aan maatskappye verkoop sodat hulle vreemdelinge kan bel om produkte of dienste aan hulle te bemark. Hi-Pixel spog op sy webwerf hy beskik oor meer as 19 miljoen verbruikers se selfoonnommers.

Hi-Pixel stuur ook teen betaling SMS’e in groot maat vir bemarking, politieke veldtogte en om skuld in te vorder. Luidens Hi-Pixel se webwerf tel Hollard, Bidvest en Liberty onder sy kliënte. Dié maatskappye ontken dit.

Luidens ’n verklaring van Experian het die “bedrieër” reeds oor sowat 25 miljoen verbruikers se naam, van en ID-nommer beskik. Hy het dit aan Experian verskaf en vir onder meer hul kontakinligting gevra sodat hy vollediger “profiele” van hulle kon skep.

Karabo Phungula (35)

Experian sê die inligting wat hy op 24 en 27 Mei aan die bedrieër verskaf het, was reeds in die openbare domein en geen finansiële of kredietverwante inligting is verskaf nie. Wat die sakeondernemings betref, is inligting soos maatskappyregistrasienommers, kontakinligting, bankrekeningbesonderhede en kredietprofiele gedeel.

Experian het op 22 Julie bewus geword van die bedrog.

Phungula sê hy het geen kontak met Experian gehad nie en hy word valslik beskuldig. Hy was “geskok” toe die balju ’n paar weke gelede by sy ouers se huis opdaag wat die geregistreerde adres vir Hi-Pixel is.

Experian het toe pas ’n Anton Piller-bevel bekom wat die buro magtig om sonder waarskuwing ’n perseel te laat deursoek om beslag te lê op hardeware en selfone voordat enige bewyse vernietig kan word.

“Ek het geen idee gehad waaroor dit gaan nie. Ek het niks verkeerd gedoen nie en daar was geen rede vir die optrede nie. Ek het geen persoonlike inligting op enige onregmatige wyse bekom nie,” sê Phungula. Volgens hom is daar op sy rekenaar en twee selfone beslag gelê.

Experian sê egter hy het wel op die data afgekom wat aan Phungula verskaf is. Dit is “beveilig” en uitgevee, maar van die data het op die internet beland.

Phungula beweer Experian voer ’n smeerveldtog teen hom omdat die buro glo hy skuld die kredietburo Compuscan geld vir data wat hy in 2017 by laasgenoemde gekoop het. Experian het Compuscan verlede jaar gekoop.

Volgens ’n persoon na aan die ondersoek het Phungula hom as ene Tebogo Mogashoa, ’n direkteur van Talis Holdings, voorgedoen om die inligting by Experian te bekom.

Phungula wou geen vrae beantwoord oor die databasis met miljoene mense se selfoonnommers wat hy op Hi-Pixel se webwerf adverteer nie. Hy het ontken hy is in besit van miljoene Suid-Afrikaners se ID-nommers.

Meer oor:  Bedrog  |  Experian  |  Kredietburo  |  Persoonlike Inligting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.