Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Hy was ’n held,’ skryf Tulbagh-dokter se gesin

Dr. Roelof Botha (59), ’n huisdokter van Tulbagh, se gesin het ’n hartroerende brief geskryf oor hul geliefde pa en eggenoot ná die grusame moord op hom Maandagaand.

Botha is oorrompel en met ’n skerp voorwerp doodgesteek nadat hy kleiduif geskiet het by ’n wildkamp buite die dorp.

Die Botha-gesin op ’n uitstappie. Foto: Facebook/Lorette Botha
Hy was ’n legende. Hy was ’n held wat moeite gedoen het om sy pasiënte en gemeenskap te help.

“My pa was die sout van die aarde en ek en my ma was sy alfa en omega,” skryf sy dogter, Lore, in ’n huldeblyk aan haar pa.

“Ons is ’n gesin van drie en van die begin af baie na aan mekaar. My pa het sy liefde vir die natuur, vir Afrika en vir avontuur oorgedra aan my. Van die ouderdom van drie maande het my pa my Malawi gaan wys.

“Hy was ’n legende. Hy was ’n held wat moeite gedoen het om sy pasiënte en gemeenskap te help. Hy het above and beyond gegaan om mense te help en lewens te red, ten spyte van homself.”

Sy sê Botha het in 2012 ’n ernstige hartaanval gehad waarna hy vir ’n maand nie eintlik mag gewerk het of te veel op sy voete mag gewees het nie.

“Hy was baie kwesbaar in daardie tyd. Daar het toe ’n pasiënt van hom ingekom, ’n bejaarde man met terminale kanker, op sy sterfbed,” skryf Lore.

“Sy familie het hom ingebring en my pa het ten spyte van die probleme met sy eie gesondheid die oom se lewe gered en vir sy familie ekstra tyd gegee om behoorlik afskeid te neem.”

Sy sê haar pa “was nie ’n uitgesproke gelowige” nie, maar het ná die ontmoeting met die bejaarde man vir haar gesê dat “hy gevoel het hoe ’n engel by en in hom was en hom die krag gegee het om die oom te red”.

Lore en Lorette Botha. Foto: Facebook/Lorette Botha

“Ek weet dit klink soos ’n cliché, maar hy was ’n held. Hy was my beste vriend. My mentor en ’n wonderlike pa en man,” sê Lore.

“Ons harte is gebreek dat so ’n ongelooflike mens op so ’n wrede manier van ons geneem is. Hy sal vir altyd onthou word vir sy sin vir humor, sy liefde vir avontuur, sy toegewydheid om sy pasiënte en die gemeenskap te help en sy onvoorwaardelike liefde vir my en my ma. Ons liefde vir hom sal vir altyd bly en hy sal verskriklik gemis word!”

Lorette het in ’n kort boodskap gesê sy sal altyd vir haar man van langer as 30 jaar lief bly.

“Liefste Roelie, jy was my beste vriend. Saam het ons Afrika ontdek, wat jou liefde was. Ons het saam langs ’n kampvuur gesit. Ons drie was vir ewig verbind aan mekaar, en so sal dit altyd wees,” skryf sy.

“Dit breek my hart, die wete dat jy op so ’n grusame manier van my af weggeneem is. Vir ewig en altyd sal ek vir jou lief wees!”

Vier mense is Dinsdag in hegtenis geneem vir Botha se moord. Dit is nog nie bekend wanneer hulle in die hof sal verskyn nie.

Meer oor:  Roelof Botha  |  Tulbagh  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.