Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hy wou glo net selfie neem, toe gaan skoot af

Die 19-jarige Luke Claassen van Port Elizabeth wou net ’n selfie neem van hom by sy pa se pistool toe hy per ongeluk die sneller trek en homself in die bors skiet.

Luke Claassen in die hospitaal kort nadat hy homself per ongeluk met sy pa se vuurwapen raakgeskiet het.
Netwerk24

Dié leerling in gr. 11 aan die Hoërskool Cillié in Port Elizabeth sterk nou in die hospitaal aan nadat ’n stuk van sy long verwyder is.

“Die koeël is deur sy linkerlong en weer uit. Gelukkig het dit al die lewensbelangrike are gemis,” sê sy pa, Deon Claassen.

“Hy is gelukkig dat net 4 cm van sy een long verwyder is”.

Die voorval het Saterdag om 20:18 by die gesin se huis in Sydenham gebeur. Luke se ma, Lindy, was op die rusbank besig op haar selfoon, terwyl sy pa voor die televisie geslaap het. Luke was in sy ouers se kamer besig om musiek te luister en ’n waterpyp te rook.

“Toe hoor ek die skoot afgaan.

“Ek het dadelik soontoe gehardloop. Ek het die deur oopgemaak en my kind op die bed gesien.

“Hy het probeer sê ‘help’, maar gesukkel om te praat terwyl hy sy bors vashou. Ek dog die kind kry ’n hartaanval,” sê Lindy.

Claassen het wakker geskrik van Lindy se histeriese gille.

“Toe ek by hom in die kamer kom, het ek die pistool op die bed by sy selfoon sien lê,” sê hy.

Claassen het dadelik besef sy kind is geskiet en het na sy foon gegryp om die ambulans te bel. Nadat hy die pistool veilig gemaak en gebêre het, het hy egter besluit om eerder self vir Luke na die Mercantile-hospitaal te neem.

Hy het probeer sê ‘help’, maar gesukkel om te praat terwyl hy sy bors vashou. Ek dog die kind kry ’n hartaanval

Daar is Luke gestabiliseer voordat hy na die Livingstone-hospitaal oorgeplaas is.

“Daar (Livingstone) was ’n wonderlike dokter Hennie wat na ons seun gekyk het en hom dadelik vir ’n noodoperasie gestuur het.”

Volgens sy ma het Luke baie bloed verloor. Twee van sy ribbebene is gebreek en die dokter het 4 cm van sy linkerlong verwyder.

Sy erken sy het aanvanklik gedink Luke wou homself om die lewe bring, maar by die hospitaal het haar kind sy bewussyn herwin en gesê die skoot het per ongeluk afgegaan terwyl hy ’n selfie van hom en die vuurwapen wou neem.

Volgens Claassen was die kluis se sleutel agter Lindy se grimering in ’n laai versteek.

“Ek het nou nie gedink hy gaan daar krap en die sleutel kry nie. Hy was nuuskierig en wou kyk wat alles in die kluis is. My pistool lê heel voor in die kluis.”

Luke Claassen in die hospitaal nadat hy homself met sy pa se vuurwapen raakgeskiet het.
Netwerk24

Claassen sê hy los gewoonlik ’n koeël in sy pistool, vir ingeval daar ’n noodsituasie is.

Hy werk as vryskut-lyfwag en sê hy het gespesialiseerde vuurwapen-opleiding ondergaan en is bevoeg om sy vuurwapen te hanteer.

Luke het egter geen ondervinding met vuurwapens nie en ná dese glo Lindy hul seun sal nooit weer aan ’n vuurwapen vat nie.

Hy sal ook op aanbeveling van die dokter moet wegbly van die waterpyp noudat sy longkapasiteit effens verklein is.

Luke is die afgelope week uit die waakeenheid van die Livingstone-hospitaal na die provinsiale hospitaal oorgeplaas, waar hy Woensdag met fisioterapie begin het.

Dokters monitor sy longfunksie voordat hulle sal besluit oor wanneer hy ontslaan gaan word.

“Hy (Luke) is nog baie seer en swak. Sommige dae is effens beter as ander, maar hy haal nog moeilik asem. Vir nou lyk dit darem asof hy buite gevaar is, maar die dokters sê enigiets kan nog gebeur.”

Claassen sê hoewel die voorval ’n fratsongeluk was, het hy ander vuurwapen-eienaars gewaarsku om kluissleutels goed weg te steek sodat slegs die eienaar dit kan bekom.

Oor die gelaaide vuurwapen, sê Claassen dit is ongelukkig nodig weens die realiteit van misdaad in Suid-Afrika.

“Ons is dankbaar vir elkeen wat ons bystaan en die skool se leerlinge wat vir hom ’n kaartjie gemaak het. Ons waardeer almal se ondersteuning,” sê Lindy.

Intussen het kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, gesê die Mountweg-polisiekantoor het ’n saak geopen vir die afvuur van ’n vuurwapen in ’n munisipale gebied en die ondersoek na die voorval duur voort.

Meer oor:  Luke Claassen  |  Port Elizabeth  |  Selfie  |  Skiet  |  Beseer  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.