Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Hysbak-dood: Inwoners lankal bekommerd
hysbak

Inwoners in ’n Johannesburgse woonstelgebou, waar ’n vrou Sondag dood is toe ’n hysbak 26 verdiepings opgeskiet het, is al ’n geruime tyd besorgd oor die instandhouding van die hysbakke.

“Dit is juis die rede hoekom ek besluit het om na ’n ander gebou te trek,” sê Reamogetse Gaolaolwe (21), ’n student wat vir ’n jaar en drie maande saam met sy broer Brian (29) ’n woonstel in die 120 End Street High Rise-gebou in Doornfontein in Johannesburg gedeel het. “Die gebou is sentraal geleë en daarom baie gewild onder veral jongmense, maar ek het altyd onveilig gevoel wanneer ek die hysbakke gebruik het. Die hysbakke het gereeld tussen vloere vasgesit en was met tye buite werking. Soms het net drie van die ses huisbakke gewerk. My broer bly ook nie meer daar nie,” sê Gaolaolwe, wat nou oorkant die straat in studenteverblyf woon.

Die 29-jarige Tumi Langa woon op die 24ste vloer en is ook ongelukkig met die gebrekkige instandhouding van die hysbakke. “Ek is beïndruk met die sekuriteit in en rondom die gebou, maar die hysbakke word nie voldoende in stand gehou nie. Soms stop dit nie eens heeltemal gelyk met die vloer nie.”

Volgens hom is van die hysbakke gereeld buite werking in die afgelope twee jaar wat hy saam met sy vrou en babaseuntjie in die gebou woon. “Die situasie is onhoudbaar, veral vir ouer mense en mense met gebreke wat ernstig deur die situasie verontrief word. Ek is elke keer bang as ek in ’n hysbak klim of ek weer lewendig daaruit gaan klim,” erken Langa, wat begin het om na ander blyplek te soek.

Die 120 End Street High Rise-gebou in Doornfontein in Johannesburg, sigbaar in die agtergrond, waar ’n vrou Sondag dood is toe ’n hysbak 26 verdiepings opgeskiet het. Foto: Werner Beukes

“Die hysbakke gaan staan gereeld of stop op verdiepings, maar die deure gaan nie oop nie. Partykeer ruk die hysbakke terwyl jy daarin is,” sê Lulamani Qibi (27), wat ’n vis-en-skyfie-winkel op die grondvlak van die gebou, waarin daar ook ’n supermark en ’n gimnasium is, bedryf. “Ek wil nie eens daaraan dink wat sou gebeur het as dit ’n kind was wat die hysbak gebruik het nie. Hier woon baie kinders in die gebou. Die eiendomsagente moet aanspreeklik gehou word vir wat hier gebeur het,” sê Qibi.

Die woonstelgebou is 109 m hoog en het 28 verdiepings. Dit bestaan meestal uit woonstelle.

Shawn Herbst, woordvoerder by Netcare 911, het gesê die vrou het ernstige kopbeserings opgedoen en is later deur paramedici op die toneel dood verklaar nadat die hysbak Sondag opgeskiet en die dak van die gebou getref het. “Nooddienswerkers het hul bes gedoen om haar te red, maar sy is aan haar beserings dood.”

Volgens Herbst was daar ook ’n man in die hysbak wat op ’n manier daarin kon slaag om uit die hysbak te kom. Die beseerde man is met ’n ambulans na ’n plaaslike hospitaal geneem.

Kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek is geopen. “Die omstandighede wat tot die persoon se dood gelei het, sal ondersoek word,” sê Makhubela.

“Hysbakke moet gereeld in stand gehou en getoets word en daar moet na verskeie aspekte soos die stabiliteit en veiligheid van die hysbak, die kabels en die spoed waarteen dit beweeg asook na die doeltreffendheid van die teengewig wat die hysbak balanseer, gekyk word,” sê Tim Conway, wat vir ’n maatskappy werk wat hysbakke installeer en in stand hou. “Daar is ’n veiligheidsmeganisme wat veronderstel is om in werking te tree wanneer ’n hysbak teen ’n hoër spoed as wat dit moet tussen verdiepings beweeg,” verduidelik Conway. “Dit kan wees dat daar nagelaat is om dié meganisme behoorlik in stand te hou, wat veroorsaak het dat die hysbak in die dak vasgeslaan het weens die massa van die teengewig en die remstelsel wat nie na behore gewerk het nie,” sê Conway.

Tarryn Naidoo, portefeuljebestuurder by die agentskap wat woonstelle in die gebou verhuur, is vir kommentaar genader, maar het nie dadelik op enige navrae oor die voorval gereageer nie.

Meer oor:  Doornfontein  |  Johannesburg  |  Hysbak  |  Dood  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.