Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Iets eg Vrystaats nou in Gauteng danksy boer en FAK

’n Vrystaatse boer wat onlangs Covid-19 oorleef het, het nege hoekpale van sandsteen aan die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) geskenk om “te help bou aan die verfraaiing van ons erfenis”.

Daarna het lede van die FAK se kultuurnetwerke in die Vaaldriehoek en Vrystaat, die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika (GGSA) en die Suid-Afrikaanse Weermagvereniging (SAWV) hul moue die afgelope naweek opgerol om die hoekpale by die Vredesmonument in Vereeniging in die vorm van ’n “kraal” te plant. Doringdraad met populiersparre is tussenin vir ’n omheining gespan.

Hoekpale uit sandsteen word by die Vredesmonument in Vereeniging geplant nadat ’n Vrystaatse boer dit aan die FAK geskenk het. Foto: Verskaf

Deon van der Watt, ’n boer van Tweeling in die Vrystaat, het dit en nog drie sulke “pale” geskenk wat as sitbankies ingerig gaan word.

Hy vertel die pale het ’n baie interessante storie. Dit is uit sandsteen-rotsklipbanke op sy plaas, Verkykerskop, gebreek. Vroeër jare is huise en kerke veral in die Oos-Vrystaat met hierdie sandsteen gebou. Die klippe is vierkantig gekap uit die klipbanke.

“Die afvalpunte is gebruik om pale te vorm, wat die oumense veral gebruik het as buitelyne op hul plase in die Oos-Vrystaat.”

Op sy plaas staan nog ’n lyndraad van oor die 3 km lank waar so ’n klippaal elke 15 m ingeplant is. “Tussendeur die klippale is populiersparre gebruik. Die geheim van die populierspar is dat niks hom vreet nie. Al die houtbalke van die ou huise van meer as 80 jaar oud in dié gebied is van populierbome gemaak.”

“Bloekombome, wat algemeen in die Vrystaat voorkom, word maklik deur termiete gevreet, maar die populierboom glad nie.”

Hy sê dit was die manier hoe drade met sparre van populierbome gespan is voordat ysterpale die norm geword het.

“Die spesifieke klippale is uitgehaal (op sy plaas) waar ons lande groter gemaak het, want ek probeer om sover moontlik die oorspronklike pale op die buitelyne van die plaas daar te hou vir die geskiedenis daarvan.”

Jan-Danie Malan, projekorganiseerder van FAK-kultuurnetwerke in die Vrystaat, sê die samewerking van kultuurnetwerk-vrywilligers oor provinsiale grense heen in ’n tyd van nood herinner ’n mens weer aan die tye in ons geskiedenis waar daar in groot nood saamgestaan is en selfdoen die hoeksteen van vooruitgang geword het.

Malan verduidelik dat die “kraal” as veilige hawe sal dien om kultuurskatte, waaronder granietreplikas van die Voortrekkermonument, genl. Christiaan de Wet en genl. Koos de la Rey se standbeelde, en ander in uit te stal. Dié skatte sal binnekort daar uitgestal word en sal agter slot en grendel toegesluit word. Die publiek kan dan per afspraak daarna kom kyk. – Saamgestel deur Cheréne Pienaar

Meer oor:  Vrystaat  |  Vaaldriehoek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.