Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ikoniese Connery dood op 90

Die legendariese sir Sean Connery – vir talle die énigste ware James Bond – is Saterdagoggend ná ’n kort siekbed dood.

Sean Connery as James Bond langs sy Aston Martin DB5 in ’n toneel uit Goldfinger in 1964. Foto: Getty Images

Die Skot het in 1962 sterstatus bereik vir sy rol in die eerste James Bond-fliek vir die grootskerm, Dr. No. Hy het daarna nog ses keer oor ’n tydperk van twee dekades sy buiging as 007 gemaak.

Sy roemryke akteursloopbaan het oor vyf dekades gestrek.

Sy seun, Jason, sê hy het oornag in sy slaap in die Bahamas gesterf. Talle familielede was saam met hom in Nassau, berig die BBC.

Die formidabele akteur met sy swaar Skotse aksent en skerp sin vir humor het in Augustus sy 90ste verjaardag gevier.

Benewens sy legendariese vertolking van James Bond, het Connery ook in rolprente soos Indiana Jones and the Last Crusade (1989), The Hunt for Red October (1990) en Finding Forrester (2000) opgetree. Hy het ’n Oscar gekry vir sy rol in The Untouchables (1987).

Connery kry op 26 September 1966 ’n Japannese bad tydens die verfilming van You Only Live Twice. Foto: AP

In 1999 is hy as die tydskrif People se sexyste man van die eeu aangewys en ’n jaar later het koningin Elizabeth hom tot ridder geslaan.

Hy het in 2003 in sy laaste fliek, The League of Extraordinary Gentlemen, verskyn en het in 2005 sy aftrede aangekondig.

Connery het eenkeer gesê meer as enigiets anders wil hy ’n ou man wees met ’n goeie gesig, “soos (die rolprentregisseur Alfred) Hitchcock of (die kunstenaar Pablo) Picasso”.

’n Ander keer het hy gesê: “Ek hou van vroue. Ek verstaan hulle nie, maar ek hou van hulle.”

Nicola Sturgeon, Skotland se premier, het gesê sy is gebroke om van Connery se dood te verneem. “Ons nasie treur vandag oor een van sy mees geliefde seuns.”

Huldeblyke van bekendes het Saterdag van oral ingestroom.

Hugh Jackman het getwiet hy het Connery verafgod in sy grootwordjare. “ ’n Legende op die skerm en daarbuite. Rus in vrede.”

Die Twitter-rekening Sir Roger Moore (Legacy) het getwiet die nuus is oneindig hartseer. “Hy en Moore was vir baie dekades vriende en Roger het altyd volgehou Sean was die beste James Bond ooit.” Nadat Connery sy Bond-martini’s vaarwel toegeroep het, het nog twee akteurs die rol vertolk, maar eers toe Moore dit oorgeneem het, was daar weer sprake van ’n (vir sommige) waardige 007-opvolger.

Meer oor:  Sean Connery  |  Sterfgeval  |  James Bond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.