Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Imizamo Yethu dalk tot rampgebied verklaar
Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad.Foto: Ineke Coetzee

Die Imizamo Yethu-informele nedersetting in Houtbaai waar ’n brand verlede naweek meer as 15 000 mense haweloos gelaat en skade van sowat R100 miljoen aangerig het, kan moontlik tot ’n rampgebied verklaar word.

So ’n versoek is reeds aan die provinsiale en nasionale regering gerig, het Patricia de Lille, burgemeester van Kaapstad, se woordvoerder gesê.

“Die relevante departement het ons aansoek bevestig. Ons wag op hulle antwoord,” het Pierrinne Leukes, De Lille se woordvoerder, gesê.

“Indien die gebied tot ’n rampgebied verklaar word, kan ons vinniger werk om die gebied te herbou.”

De Lille het in ’n verklaring gesê daar word aan ’n plan vir die gebied gewerk.

Die Kaapse stadsraad het in Februarie begin met ’n behuisingsprojek in die gebied. De Lille het gesê die projek gaan behuising skep vir 956 gesinne.

Dit sal help om te verhoed dat nooddiensvoertuie nie soos vantevore die gebied nie kan binnegaan nie.
Patricia de Lille

“Ek gaan in die komende week met die gemeenskapsleiers praat en vra dat hulle die dupleksontwerp van die huise heroorweeg,” het De Lille gesê.

“Indien hulle ons toestemming gee, kan ons meer families akkommodeer deur vyf verdiepings ekstra aan te bou.”

Volgens haar het die metroraad ook ’n ooreenkoms met die meerderheid inwoners bereik om die gebied te herontwerp sodat nooddiensvoertuie die gebied beter kan bereik.

“Dit sal help om te verhoed dat nooddiensvoertuie nie soos vantevore die gebied nie kan binnegaan nie. ’n Deel van die herontwerp is brandbane, voetgangerspaaie en ander nooddienshulpmiddele soos brandkrane wat die stadsraad voorheen nie in die gebied kon aanbring nie,” het sy gesê.

Die stadsraad begin Maandag om noodboumateriaal aan inwoners uit te reik.

“Die materiaal is brandbestand en ons wil graag hê dat mense minder van die normale hoogs vlambare materiale gebruik. Daar is ook ’n registrasieproses aan die gang om te verseker dat die regte mense materiaal ontvang,” het sy gesê.

Die stadsraad het onlangs ook grond in Philippi gekoop. Die grond sal Imizamo Yethu-inwoners wat ingestem het om te verhuis, akkommodeer. Diegene wat skuif, sal ’n gedienste erf ontvang, aldus De Lille.

Meer oor:  Stadsraad  |  Patricia De Lille  |  Houtbaai  |  Kaapstad  |  Brand  |  Rampgebied
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.