Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
In Wuhan in kwarantyn: Ma smeek Ramaphosa om te help

Suid-Afrikaners wat in die koronavirus-geteisterde Chinese stad Wuhan vasgekeer is, is aan hul eie genade oorgelaat en moedeloos verby met geen kans dat hulle gou sal kan terugkeer na Suid-Afrika nie.

“Ons regering gebruik die woorde van die Chinese ambassadeur as verskoning om nie te help nie. Of hulle luister nét na hom,” het ’n sakeman Sondag vanuit Wuhan gesê waar hy sedert die stad in kwarantyn geplaas is in ’n hotel vasgekeer is.

“Ons kinders is aan hul eie genade oorgelaat,” sê Simoné van Wyk, die ma van Savannah-Lee de Lange. De Lange is een van sowat 160 Suid-Afrikaners in Wuhan en sy is reeds 24 dae in kwarantyn in haar woonstel.

Van Wyk het gesê die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) het die lys met name van mense wat uit Wuhan ontruim wil word.

“Ons doen nou nie eers meer ’n beroep op Dirco nie. Ons vra nou reguit vir pres. Cyril Ramaphosa, asseblief president, help ons kinders,” sê Van Wyk.

Francois Daneel, een van die Suid-Afrikaanse onderwysers in Wuhan, het op Facebook ’n saamgestelde video gelaai wat hy aan mede-Suid-Afrikaners in Wuhan opdra. Daarin sê hy: “Saam sal ons sterker hierdeur kom.”

Lin Songtian, China se ambassadeur in Suid-Afrika, het Vrydagoggend op ’n perskonferensie in Kaapstad gewaarsku daarteen dat regerings hul burgers uit China ontruim.

“Ons sê móénie hulle ontruim nie. Moenie mense uit China ontruim nie. Ons gee hulle mediese behandeling en ons verskaf kos aan hulle,” het Lin gesê.

Hy het gewaarsku dat as mense uit China ontruim word, gaan die virus saam met hulle.

Dit is in reaksie hierop dat die Suid-Afrikaanse sakeman wat in Wuhan vasgekeer is, Sondag gesê het daar moet ’n pleidooi by die Chinese ambassadeur gemaak word. Elke keer wanneer die departement van internasionale betrekkinge en samewerking in Pretoria begin luister na die Suid-Afrikaners in Wuhan, sê die Chinese ambassadeur daar is niks om oor bekommerd te wees nie, het hy gesê.

korona-sterftes
Grafika24

“Dit is veilig, wys, goedkoop en die regte ding om mense in China te hou,” het Lin Vrydag gesê.

Aljazeera het Sondag berig Nepal het 175 burgers uit Wuhan ontruim nadat ouers van studente in die stad daarop aangedring het. Die Nepalese lugdiens het die 134 mans en 41 vroue, meesal studente, na Katmandoe vervoer waar hulle vir twee weke in kwarantyn sal wees.

Teen Sondagmiddag 15:00 was daar 69 267 mense besmet met die virus en 1 670 mense is reeds dood daaraan. Die meeste van hulle is die 1 596 in die provinsie Hubei waarin Wuhan geleë is.


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.