Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inperking ‘onsinnig,’ sê staat se dokters

Talle van die land se voorste wetenskaplikes – selfs kenners wat in die minister van gesondheid se advieskomitee dien – meen die Covid-19-inperking dien geen doel meer nie.

Die rebellie van die regering se eie kenners wat sê die staat steur hulle eenvoudig nie meer aan hul raad nie, volg enkele dae nadat pres. Cyril Ramaphosa gewaarsku het dat die vlak 4-inperking in plek sal bly in gebiede waar die getal siekes bly styg.

“Ek wil herhaal wat ek al vantevore gesê het: As ons die inperking te skielik en te vinnig lig, loop ons die risiko van ’n onbeheerbare toename in infeksies. Ons sal daarom versigtig beweeg, gelei deur die advies van plaaslike en internasionale kenners,” het Ramaphosa Woensdag gesê.

Maar verskeie van die regering se eie kenners steun nie meer die inperking nie. Onder hulle is prof. Shabir Madhi, ’n entstofkundige aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits), wat sê die regering se maatreëls sal tot méér sterftes lei. Volgens Madhi kan nie die inperking, of enige ander ingryping, sorg dat minder mense met Covid-19 geïnfekteer word nie. “Of dit nou ’n ses maande periode is, of twee jaar, hierdie infeksie gaan tot ten minste 2021 of 2022 met ons wees. Ons kan nie daarvan wegkom nie . . . ’n inperking is nie ’n magic bullet nie.”

Madhi, ’n oudhoof van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) en lid van die ministeriële advieskomitee (MAK), het op ’n paneelgesprek van Daily Maverick gesê dat meer mense gaan sterf van siektes wat nie Covid-19-verwant is nie. Suid-Afrikaners moet nou self verantwoordelikheid vir hul gesondheid kan neem.

Dr. Glenda Gray, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad (MNR) en ook ’n MAK-lid, het die regering se plan om die inperking uit te faseer teenoor News24 as “onwetenskaplik en onsinnig” beskryf. Die Chris Hani Baragwanath-hospitaal in Soweto sien vir die eerste keer in dekades kinders wat aan wanvoeding ly.

Nog ’n MAK-lid, prof. Marc Mendel­son, hoof van oordraagbare siektes en MIV-medisyne by die Groote Schuur-hospitaal, glo ook dat die uitfasering van die inperking nie deur wetenskap gelei word nie. Volgens Mendelson is infeksies onafwendbaar: “Tot 60% of so van die land sal oor die volgende twee jaar geïnfekteer word, maar om die infeksiekoers te beperk gaan ons nie regkry deur die inperking nie.”

Suid-Afrikaners moet nou self verantwoordelikheid vir hul gesondheid kan neem.

Dit kom vier weke nadat prof. Salim Abdool Karim, die regering se hoofwetenskaplike oor Covid-19, aan Rapport se Hanlie Retief gesê het: “Ek dink ons het reeds die vrugte gepluk van die inperking. Ek is nie seker hoeveel meer dit ons kan help nie.”

Madhi sê die inperking beteken reeds dat Suid-Afrika se grootste gesondheidsuitdaging, tuberkulose (TB), agterweë gelaat word. Hy sê daar is reeds ’n afname van amper 50% in TB-toetse. Dit beteken dat diagnoses laat gemaak word, wat ’n invloed het op pasiënte se kanse op herstel. TB het in 2018 sowat 63 000 Suid-Afrikaners se lewens geëis, volgens die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO). Dit is dubbel soveel mense as wat sover in Italië aan Covid-19 gesterf het.

Dr. Ian Sanne, MIV-navorsingshoof by Wits, sê MIV-pasiënte is ook besig om tussen 40% en 60% van hul afsprake mis te loop as gevolg van die inperking.

Hy het aan News24 gesê hy verwag soortgelyke syfers vir diabetes- en ander pasiënte met chroniese siektes. Mense wat onderliggende siektes, soos TB, diabetes en MIV, het, is boonop meer vatbaar vir Covid-19-komplikasies.

Die Wes-Kaapse regering het die afgelope week bekend gemaak dat 94% van hul 137 sterftes ander onderliggende siektes gehad het. Dit is egter nie bekend hoeveel van die landswye sterftes (247) ook onderliggende siektes gehad het nie.

Pandemic Data and Analytics (Panda), ’n inisiatief wat die regering wil help met beleidsbesluite rakende Covid-19, het die afgelope week ’n verslag bekend gestel wat voorspel dat die inperking 29 keer meer sterftes kan veroorsaak as wat die regulasies probeer keer.

As dié aannames korrek is, kan dit beteken dat meer as 1,4 miljoen mense uiteindelik sterf – teenoor die 48 000 Covid-sterftes wat die Aktuariële Vereniging van Suid-Afrika onlangs oor die volgende vier maande voorspel het.

In ’n brief aan Ramaphosa vra Panda vir ’n “dringende vergadering met die regering” om te verduidelik hoe die ekonomiese impak die lewensverwagting van miljoene Suid-Afrikaners gaan verkort.

Panda erken dat “ses weke gelede, met min data beskikbaar” oor die pandemie, was ’n “streng inperking ’n omsigtige besluit”. Nou moet die regering kennis neem van “nuwe en ontwikkelende data”.

Nog ’n rede om die inperking onmiddellik te lig is die mislukking van Suid-Afrika se toetsstrategie. Die regering het beloof dat die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens teen die einde van April 36 000 toetse per dag sal doen.

Die afgelope week is ’n gemiddelde van 16 043 toetse per dag rapporteer.

Madhi en Mendelson het ook die afgelope week in ’n meningstuk geskryf dat die toets-en-soekstrategie daarop staatmaak dat besmette persone geïdentifiseer en geïsoleer word en dat die mense opgespoor word met wiehulle kontak gehad het. Die strategie is net moontlik as toetsuitslae binne 24 uur beskikbaar is.

Die afgelope week was daar verskeie klagtes uit die Wes-Kaap, Gauteng en KwaZulu-Natal dat toetslaboratoriums met reuse-agterstande in toetse sit en dat dit tot tien dae kan neem om ’n toetsuitslag te kry. (lees meer op bl. 6).

Gray sê die inperkingsregulasies is ook glad nie op wetenskap gebaseer nie.

“Dis amper asof iemand hierdie regulasies uit hul duim suig,” sê Gray.

“Met ’n jong bevolking weier ons om mense te laat uitgaan. Ons gee hulle drie uur per dag om te oefen, en kla dan omdat daar ’n opeenhoping in hierdie tyd is . . . waar is die wetenskaplike bewyse hiervoor?”

Sanne gaan so ver as om te sê dat die MAK nooit gevra is of die inperking moet uitfaseer na vlak drie toe nie

Nios het Vrydagaand gerapporteer dat Suid-Afrika 13 524 positiewe Covid-19 gevalle het, uit 421 555 toetse wat al gerapporteer is. Dit beteken 3,3% van alle toetse het sover positief getoets.

Die afgelope week (11 tot 15 Mei) het 4,4% van alle toetse positiewe gevalle gerapporteer. Dit beteken dat die infeksiekoers ondanks die inperking steeds groei.

Mendelson stel voor dat die regering ’n “vinnige de-eskalasie” van die inperking na vlak 1 moet doen.

Prof. Landon Myer, ’n epidemioloog aan die Universiteit van Kaapstad, het aan Rapport gesê die inperking is uitgedien.

“Die regering het die (eerste) inperking so goed hy kan geïmplementeer, maar dit moet nou gedeeltelik gelig word.”

Volgens die regering sal Suid-Afrika egter eers in September sy piek van infeksies bereik, met die regering wat tot dan verskillende vlakke van inperking in plek wil hou om seker te maak dat ’n groot uitbreking van die virus nie hier plaasvind nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.