Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Internis verloor vrou en skoonma in motorongeluk
Die Rabie-gesin. Voor is Daniel (37), Inge-Marié (40) en die bekende internis Johann Rabie (69). Agter is wyle Roelien (68) en Stephanus (34). Foto: Verskaf

Die Kaapstadse internis dr. Johann Rabie (69) was Sondagmiddag nog in skok nadat sy vrou en skoonma verongeluk het.

Dr. Rabie, wat dekades lank by die Panorama Mediclinic in Kaapstad werk, het die ongeluk Saterdagaand op die R27 naby Melkbosstrand oorleef. Johann en Roelien (68) Rabie was meer as 40 jaar lank getroud.

Sy ribbes is gebreek en hy is ernstig beseer, maar hy was Sondag in ’n stabiele toestand in die waakeenheid van die Mediclinic Milnerton. Hy is by sy volle bewussyn, maar ly nog aan erge skok.

“Ons is verpletterd, sprakeloos, verslae, platgeslaan,” het ’n gebroke Inge-Marié Rabie (40) Sondagmiddag in trane gesê. Sy is die egpaar se enigste dogter en was baie na aan haar ma.

Inge-Marié sê haar ma was “ ’n engelvrou, ’n ystervrou en ’n ratel”. Sy beskryf haar ouma, Martha Opperman (94), as ’n dierbare mens en baie sterk vrou wat “nog 100 jaar oud kon word”.

Roelien Rabie (68) word as ’n engelvrou onthou. Foto: Verskaf

Niemand weet presies wat gebeur het nie, maar volgens Stephanus Rabie (34), Inge-Marié se broer, het sy ouers se voertuig Saterdagaand tussen 19:00 en 20:00 by die Mamre-afrit gerol. Hulle was op pad terug van ’n middag aan die Weskus. Opperman is op die toneel dood en Roelien het later in die ambulans gesterf. Stephanus sê sy ma het nog geleef toe ’n vreemdeling by die ongelukstoneel gestop het. Sy het die nooddienste geskakel.

“My ma was die liefde self, sy het net vir ander mense gelewe,” sê Stephanus, ’n regisseur van kykNET se Boer Soek ’n Vrou. Sy sou op 13 Desember 69 jaar oud geword het. “Dit is verskriklik hartseer,” het hy Sondagmiddag gesê.

Inge-Marié, ’n algemene praktisyn, sê die sterfte van haar ma is ’n ongelooflike terugslag vir die familie.

Hul ander broer, Daniel (37), is ’n advokaat.

Opperman word oorleef deur haar dogter, Joan van Zyl, vyf kleinkinders en vier agterkleinkinders. Haar man is op ’n jong ouderdom aan ’n hartaanval oorlede.

Van Zyl het twee kinders, Marisa Klopper (38) en Wilhelm van Zyl (41). Volgens Marisa is haar ma hartseer, maar ly sy ook aan skok. “My ouma was iemand wat altyd op haar knieë was vir haar familie,” sê sy. “Sy het baie sterk waardes gehad en het altyd uit haar pad gegaan vir haar kleinkinders.”

Martha Opperman (94) is ook in die ongeluk oorlede. Volgens haar kleindogter, Inge-Marié Rabie, sou sy 100 jaar oud kon word. Foto: Verskaf

Die hegte Rabie-gesin is Sondag by die hospitaal bygestaan deur vriende en familie en het oproepe van heinde en verre ontvang.

“My ma het soveel mense se lewens verryk en beïnvloed. Sy was die middelpunt van enige gesprek, sy het so ’n ongelooflike ekstroverte persoonlikheid gehad,” sê Inge-Marié.

Opperman het die afgelope tyd by Roelien en Johann in Welgemoed gebly. Roelien was voorheen ’n huishoudkundeonderwyseres, maar het haarself later aan haar kinders toegewy.

“Haar kinders was haar passie. Sy het ons bo alles gestel en die gesin bymekaar gehou,” sê Inge-Marié.

Sy sê haar ma het baie breë belangstellings van sterrekunde tot fotografie en die natuur gehad. Sy was baie kunstig en kreatief, maar sy het nie net as ’n engelvrou bekend gestaan omdat sy glasengeltjies gemaak het nie.

“My ma was die wonderlikste mens op aarde. Sy het ander mense altyd voor haarself gestel. Sy het net liefde vir almal gegee, so ver soos wat sy gegaan het en het enigiemand sonder skroom gehelp wanneer nodig” sê sy.

Inge-Marié sê haar ma is onvervangbaar en haar dood is ’n reuseverlies vir die familie.

“Ek gaan my ma en ouma só mis,” het sy Sondagmiddag gesê. “Vir altyd.”

Meer oor:  Sterfgeval  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.