Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inwoners ontferm hulle oor nagape in Jhb

Toe klein Gremlin die nagapie in Februarie in Honeydew, Johannesburg, uit sy nes geval het, het hy maar 12 gram geweeg.

Sy ma het vir ’n rot weggehardloop en hy het uit haar bek geval toe sy met hom na veiligheid wou spring. ’n Weldoener het hom teruggesit in sy nes in ’n huis se dak, maar sy ma het nie teruggekom nie.

’n Mens-ma van die C.A.R.E.-organisasie (Centre for Rehabilitation and Education) in Douglasdale, Johannesburg, het haar oor hom ontferm. Gremlin moes aanvanklik in ’n broeikas bly en het vir dae aaneen elke twee uur voeding gekry.

Die nagapie-korridor in Fourways, Johannesburg is die groen strook. Foto: Skermgreep

Irene McKenzie-Fraser van C.A.R.E. sê die klein nagapie weeg nou al sowat 40 gram en sal na verwagting in Oktober in die natuur vrygelaat word.

“Ons praat van ’n sagte vrylating,” sê McKenzie-Fraser en verduidelik dan dat dit ’n geleidelike proses is waar die nagapie eers gewoond gemaak word aan ’n wilde trop, voordat hy saam met hulle vrygelaat word.

Gremlin is een van die talle nagapies wat in die stedelike oerwoud van Johannesburg bewaar, gered en soms gerehabiliteer word.

Volgens die African Wildlife Foundation is nagapies een van die wêreld se kleinste primate. Hulle kry hul naam (Bushbaby) oor hul huilgeluide wat klink soos dié van ’n mensebaba. Hulle het groot, ronde oë wat goed in die nag kan sien, en vlermuisagtige ore. Wanneer hulle deur digte bosse spring, vou hul groot ore plat teen hul kop om hulle te beskerm. Hulle kan tot 2 meter in die lug op spring en in net ’n paar spronge ’n afstand van meer as 9 meter dek.

Verstedeliking en veldbrande is van die grootste oorsake dat nagapies in die Johannesburg-omgewing uit hul natuurlike habitat gedryf word, sê McKenzie-Fraser.

Deon Polley meen hierdie baba-nagapie is ongeveer 3 maande oud. Die wilde nagapies wat in die dak van sy stoep woon, het al twee werpsels kleintjies gekry. Hy verwag ’n derde werpsel in Oktober. Foto: Dean Polley

Nagapies in Johannesburg

Volgens Surita Volland, stigter van die Save the Fourways Bushbabies/Stop the Development-petisie, is nagapies ’n integrale deel van die Johannesburgse gemeenskap – veral vir die inwoners van die Waterford-landgoed in Fourways.

In 2004 is ’n serwituut in die landgoed as ’n “nagapie-korridor” uitgewys, sodat die nagapies daar veilig tussen hul habitat en teelgebiede kan beweeg, aangesien verstedeliking in die area hul habitat versplinter het.

Dié “korridor” is ’n laning soetdoringbome waar Stonebridge- en Waterfordrylaan in Maroeladal, Fourways, by ’n verkeersirkel kruis.

Volgens Nicole McDonald, mede-opsteller van die petisie, bly daar minstens 40 nagapies.

Volland sê hulle het Alexander Frost, voorsitter van die Eco Culture Sechaba Foundation, geraadpleeg oor of nagapies suksesvol hervestig kan word.

“Ongelukkig het nagapies (voorheen) erge spanning tydens hervestiging getoon, omdat hulle so territoriaal is. Dis baie moeilik om hulle weer as ’n groep in die natuur vry te laat of hulle by bestaande troppe te integreer,” sê Volland na aanleiding van haar gesprek met Frost.

Een van die wilde nagapies wat by Dean Polley se huis op die Buffelsdrift-wildreservaat in die Roodeplaat-gebied bly. Foto: Dean Polley

Die petisie

Die veldtog Save the Fourways Bushbabies/Stop the Development is in Julie 2018 op die been gebring om teen residensiële ontwikkeling in die nagapies se natuurlike habitat in Johannesburg beswaar te maak. Die ontwikkelings oor ’n gebied van nagenoeg 10 000 vierkante meter sal die nagapie-korridor heeltemal vernietig en die nagapies verdryf, sê Volland.

Die petisie, wat nou al 75 000 handtekeninge het, is volgens Volland in Oktober 2018 aan die Johannesburg-metro oorhandig.

Volland sê hulle appelleer met behulp van regshulp teen die metro se besluit om met die ontwikkeling voort te gaan.

Navrae is aan Reuben Masango, burgemeesterskomiteelid van ontwikkelingsbeplanning gerig. Sy kommentaar sal bygewerk word.

Nagapies se dieet bestaan meestal uit insekte en boomgom van soetdoringbome. Hulle eet ook vars vrugte en heuning. Hier geniet ’n wyfie-nagapie ’n lemoen wat Dean Polley vir haar uitgesit het. Foto: Dean Polley
Dean Polley, ’n inwoner van die Buffelsdrift-wildreservaat in die Roodeplaat-gebied, hou al vir 18 maande ’n gesinnetjie nagapies in die dak van sy stoep dop. Volgens Polley bly hulle heeltemal wild daar. Hier maak hulle gereed om uit te gaan vir die nag. Foto: Dean Polley
’n Wyfie-nagapie in die bos by Dean Polley se huis in die Roodeplaat-omgewing.Foto: Dean Polley
’n Volwasse nagapie in ’n boom by Dean Polley se huis in die Roodeplaat-omgewing. Foto: Dean Polley
’n Nagapie kom drink water uit die voëltjiebad by Dean Polley se huis. Foto: Dean Polley
’n Drie maande oue tweeling wat saam met hul wilde gesinnetjie in die dak van Dean Polley se stoep bly. Foto: Dean Polley
Meer oor:  Honeydew  |  Johannesburg  |  Omgewing  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.