Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inwoners staan saam om drenkeling-seun (3) te red
Nico Mostert (3) lê in die hospitaal.

Die gemeenskap van Sundra by Delmas in Mpumalanga het saamgespan om ’n seuntjie se lewe te red.

Nico Mostert (3) het Sondag in ’n swembad beland en volgens sy ma, Mary Mostert, het dit gelyk of hy dood is.

“Ek het oor die buurtwagradio geskree: ‘Help, help, my kind het verdrink!’,” het sy Dinsdag snikkend vertel.

Derick Meyer van die Sundra Rietkol Bulldogs, die buurtwag, het onmiddellik op die oproep gereageer wat om 16:50 deurgekom het.

’n Kortkop agter hom was sy buurtwagkollega Derek Bester.

Meyer sê dit het gelyk of Nico dood is.

“Ek het dadelik CPR (noodbehandeling) toegepas. Ná ’n rukkie het hy (Nico) na sy asem begin snak, toe draai ons hom op sy sy en toe kom die water uit,” sê Meyer.

Bester het hom bygestaan en met die ouers se toestemming Nico in sy dubbelkajuitbakkie gelaai en deurgejaag Springs toe.

Adrie Joubert, wat intussen ook op die toneel aangekom het en deel van die buurtwag se noodhulpspan is, het op die vloer van die bakkie tussen die sitplekke gesit en kunsmatige asemhaling toegepas terwyl Meyer borskompressies toegepas het.

“Die Here het die pad voor ons oopgemaak,” sê Bester wat nie kan onthou hoe vinnig hy die 17,5 km tussen Sundra en Springs afgelê het nie.

“Ek het net die hele tyd gebid: ‘Here, spaar net hierdie kind’,” sê Joubert.

Klein Nico se ouers, Mary en Neels Mostert, is baie dankbaar vir die hulp.

By die ongevalleafdeling was die hospitaalspan reeds ingelig dat hul pasiëntjie byna verdrink het. Hy is dadelik behandel.

Die hospitaal wou ’n deposito van R72 000 hê voordat Nico opgeneem kon word in die waakeenheid en die Mosterts het nie ’n siekefonds nie. Ná ’n boodskap van Bester aan al die buurtwaglede is daar binne ’n uur of twee R110 000 ingesamel.

“Jy weet, dit was ná 17:00. Die supermark op Sundra het sy deure gaan oopsluit sodat mense by die OTM kon geld trek.”

Joubert sê almal het in trane uitgebars oor die wonderwerk.

“Norberto Araujo van die winkel het gesê dit het soos ’n inry by die supermark gelyk soos mense ingekom het om geld te trek.”

Die noodhulpspan van die buurtwag Sundra Rietkol Bulldogs is agter Derek Bester (links) en Derick Meyer. Voor sit Adrie Joubert.

Nico het aanhou veg en sal Dinsdagaand stadigaan onder verdowing uitgebring word.

“Die dokter sê hy haal grootliks al self asem,” het Mostert Dinsdagmiddag gesê.

’n Breinskandering sal môre gedoen word en hoewel die buurtwag daarvoor kan betaal uit die geld wat tot dusver ingesamel is, sal nog geld nodig wees om die uiteindelike rekening te betaal.

Bester sê die klein gemeenskap van Sundra het weer gewys wat samewerking is en dat sulke voorvalle mense net nader aan mekaar bring.

Lesers wat die Mosterts met die mediese onkoste wil bystaan, kan Derek Bester by 082 923 7027 kontak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.