Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inwoners van Kempton Park keelvol vir ‘kragpyne’

Beplande instandhoudingswerk in Kempton Park kan inwoners tot Saterdag aan beurtkrag blootstel.

Inwoners het Maandag woedend gereageer toe hulle weer in die donker gelaat is.

Dele van Kempton Park se krag was van 9 Junie vir ’n week af ná ’n ontploffing by die Glen Marais-substasie. Dié ontploffing was weens ’n kortsluiting wat deur kabeldiefstal veroorsaak is.

Itumeleng Mothibi van Glen Marais het Maandag gesê hy soek antwoorde.

“Dit is die een leuen ná die ander. Ons het steeds geen sekerheid hoekom die krag weer af is en wanneer dit herstel gaan word nie.

“Die onderbreking is ’n groot ontwrigting, ’n mens kan nie so lewe nie,” het Mothibi gesê.

Volgens Simone Slabbert, ook ’n inwoner van Glen Marais, is dit tyd dat die metro sy sokkies optrek.

“Twee weke gelede, toe ons vir ’n week sonder elektrisiteit was, het ek finansieel en andersins so baie verloor. Ek het veral my vertroue in die munisipaliteit en ons staatsamptenare verloor, wat klaarblyklik niks vir inwoners omgee nie, want hulle doen nie dit wat hulle belowe nie.

“Ons buurt betaal hoë tariewe, jy verwag egter nie om sulke swak diens te ontvang nie.”

Sosiale media was ook aan die gons oor die kragonderbrekings.

’n Inwoner van Kempton Park het in ’n Twitter-inskrywing gevra of die probleem ooit opgelos gaan word. “Vyf dae laas keer en nog nie eens ’n week later nie en ons sit met dieselfde probleem.”

In ander twiets waarsku iemand die burgemeester dat inwoners oproerig gaan raak en beskuldig die metro daarvan dat hy geen respek toon teenoor inwoners nie.

Jaco Terblanche, DA-raadslid in die omgewing, sê tegnici van die Ekurhuleni-metro het Sondag aan die substasie in Van Riebeeckpark gewerk.

“Instandhoudingswerk by dié substasie het verskeie kragonderbrekings veroorsaak. Die instandhouding sal teen Saterdag voltooi wees, intussen is daar ’n tekort aan kapasiteit en daarom moet beurtkrag ingestel word.”

Volgens Terblanche werk tegnici aan die probleem.

Die Ekurhuleni-metroraad het op sy Twitter-profiel gesê elektriese opknappings word aan die substasie in Van Riebeeckpark gedoen.

“Die projek sal teen Saterdag voltooi wees. Hoewel inwoners krag sal hê, kan daar egter onbeplande onderbrekings in Terenure, Kempton Park-Wes, Edleen en Birch Acres wees,” het die metroraad se twiet gelui.

Die woordvoerder van die Ekurhuleni-metroraad was nie beskikbaar vir kommentaar nie.

Meer oor:  Kempton Park  |  Inwoners  |  Beurtkrag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.