Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inwoners van Zwelihle weer omgekrap

Woedende inwoners van Zwelihle in Hermanus het Woensdagoggend weer eens die strate ingevaar, motorbande gebrand en paaie met klippe versper nadat onluste opnuut in die gebied uitgebreek het.

Onluste het vandeesweek weer in Zwelihle, Hermanus, uitgebreek. Foto: Bianca Du Plessis/Hermanus Times

Die protesaksie volg na aanleiding van boodskappe wat op sosiale media versprei is en wat lui dat die polisie aanklagte van openbare geweld en aanhitsing teen Gcobani Ndzongana, ’n bekende plaaslike gemeenskapsaktivis, ondersoek.

Inwoners het Dinsdagaand ’n memorandum aan die polisie oorhandig. Die polisie moes rubberkoeëls en traangas gebruik om die ontstoke inwoners uiteen te jaag.

Die betogers beskuldig ook die plaaslike polisie van wanbestuur en het daarop aangedring dat die minister van polisie hulle moet toespreek.

Volgens die kennisgewing gedateer 9 Julie is daar sake van aanhitsing tot geweld en saakbeskadiging teen Ndzongana by die Hermanus-polisiekantoor geopen.

Die kennisgewing bevat ook die saaknommer en moedig mense aan wat eerstehandse inligting het of wat beskik oor foto’s of bandopnames van die geweld, om dit aan die owerhede te oorhandig.

Ndzongana het aan Netwerk24 gesê dat die gemeenskap erg ontsteld is omdat hy geteiken word en dat die kennisgewing op Facebook en WhatsApp versprei is.

“Ek is nie aangekla nie, maar die boodskappe doen die ronde. So ver ek weet is daar nie sake teen my nie. Maar die mense is ongelukkig omdat leiers in die gemeenskap deur ANC- en DA-raadslede in die munisipaliteit geteiken word en dat die polisie die aanklagte sommer so oorweeg,” sê hy.

Volgens Ndzongana is dit duidelik dat ANC- en DA-raadslede in die gebied die vertroue van die inwoners verloor het. Dit is omdat hulle volgens hom vir ’n geruime tyd reeds niks vir die mense doen nie.

Dit het al in Maart gebrand en dis net die stink rommel wat nou vir maande daar lê wat gebrand het.

“Hulle teiken nou liewers mense wat aktief betrokke is in die gemeenskap.”

Hy sê dat hy nie deel is van die nuwe protesaksie nie en dat hy met verkoue in die bed is.

Hy sê gerugte dat die biblioteek vandeesweek aan die brand gesteek is, is onwaar.

“Hulle praat onsin oor die biblioteek. Dit het al in Maart gebrand en dis net die stink rommel wat nou vir maande daar lê wat gebrand het.”

Intussen het die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement Woensdag gesê dat die kliniek in Zwelihle weens die gewelddadige betogings gesluit is en “hopelik weer” Donderdag sal kan oopmaak.

Pasiënte is verwys na die ander naaste kliniek en die Hermanus-hospitaal vir noodgevalle.

Die Hermanus-polisiëringsforum het later Woensdag op hul Facebook-blad gesê dat die situasie in die gebied nou weer onder beheer is en dat die betogers uiteen gegaan het.

Die polisie in Hermanus het Woensdag bevestig dat die betogers uiteen is en dat die gebied weer kalm is.

Meer oor:  Hermanus  |  Zwelihle  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.