Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Inwoners vrees groot gat vol water reg voor huis

Inwoners in ’n gebied in Bloemfontein leef in vrees omdat daar ’n reusegat vol water reg voor hul huis opgeduik het nadat die munisipaliteit sonder sukses ’n gebreekte pyp wou regmaak.

Tebogo Wilson (16) wys hoe diep die gat is wat die munisipaliteit gegrawe het om ’n pyp voor Selina Bango se huis in Fase 6 buite Bloemfontein reg te maak. Foto: Willem van der Berg

Selina Bango, ’n weduwee met drie kinders en een kleinkind, sê sy is moedeloos sedert ’n lekkende pyp voor haar huis in Fase 6 in Mangaung middel verlede jaar probleme gegee het. Sedertdien bly die grond en haar mure nat soos wat die water by haar huis inloop.

“As die water so onderdeur loop, is die hele huis nat.”

Sy sê elke keer wanneer sy die munisipaliteit se hulp inroep, kom kyk hulle en maak dit glo reg, net vir die pyp om kort daarna weer te begin lek.

Die laaste keer toe die munisipaliteit gepoog het om die pyp te herstel, het hulle ’n enorme gat gegrawe en dit net so gelos. Ná swaar reën hier bly die gat nou vol water.

Bango-hulle moes die heining oopsny om op ’n ander plek die erf in te gaan.

Haar bure en ander inwoners is bekommerd oor die gevaar wat die put vol water vir kinders en diere stel.

Bango moes self sorg dat haar huis klaar gebou word nadat haar man, die hoofbroodwinner, drie jaar gelede aan ’n beroerte dood is.

Willem van der Berg, een van haar werkgewers, sê die munisipaliteit se swak dienslewering maak hom vies.

“Dit is nou hoe dit gaan. Bou jou eie huis, vra nie hulp van die staat nie, maar dan kan hulle nie eens ’n pyp voor jou huis kom regmaak nie. Om nie te praat van die duisende liters water wat vermors word nie.”

Eddie Rasoeu, DA-raadslid van die Mangaung-metro, het Bango besoek en sê die regerende party sal dit nooit regkry om dienslewering suksesvol toe te pas nie.

“Wanneer daar ’n krisis is, roep hulle ons, maar hulle sal altyd vir die ANC stem.”

Sy wens is dat die inwoners van townships soos Fase 6 ten minste sal oorweeg om vir beter partye te stem.

“Gee ons ’n geleentheid, net so vyf jaar, om dinge beter te maak.”

Die Mangaung metro het ondanks herhaaldelike probeerslae nie op navrae oor Bango se probleem reageer nie.

Meer oor:  Bloemfontein  |  Munisipaliteit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.