Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Irene is sy ‘Disney-prinses’, sê verloofde

Die sangeres Irene-Louise van Wyk het net voor Kersfees in Ysland verloof geraak.

“Ons het foto’s geneem op Diamantstrand (die Jökulsárlón-strandmeer, ook bekend as Diamantstrand in Ysland). Nick (du Preez) weet ek wil altyd kyk hoe lyk die foto’s om seker te maak dis mooi. Hy het toe ’n foto van my verloofring geneem net voordat ons strand toe is.”

Toe sy deur die foto’s op sy selfoon blaai, kom sy af op die foto van die ring.

Die sangeres Irene-Louise van Wyk en haar kêrel, Nicholas du Preez. Hulle het in Desember in Ysland verloof geraak terwyl hulle daar vakansie gehou het.

“My hart het vinniger geklop en toe vra hy my om te trou. Hy kon nie op sy knieë gaan nie want dit was te koud, maar toe ons later terug was in ons warm kamer het hy dit gedoen.”

Van Wyk en Du Preez, wat ’n tegniese ouditeur in die houtbedryf is, is al amper ’n jaar lank in ’n verhouding.

Hulle het mekaar deur gemeenskaplike vriende ontmoet. Hy aanvaar haar nes sy is en dink haar lawwe grappies is snaaks, sê Van Wyk.

‘Sy het die mooiste persoonlikheid en oordeel ander nooit nie.’

“Dis ware liefde met sy eie temalied en sy is my Disney-prinses,” spog Du Preez.

“Sy het die mooiste persoonlikheid en oordeel ander nooit nie. Ons het dieselfde waardes en is die perfekte span.”

Hulle wil in September trou.

“Ons hou van dieselfde goed,” sê Van Wyk. “Hy het nou die dag vir my ’n foto gestuur van ’n mooi koek en ek dink toe, wow, dis presies wat ek wil hê vir ons troue.”

Dis vir haar belangrik om goed te voel op haar groot dag en sy doen moeite om gesonder te leef en gereeld te oefen.

Die verloofring waarmee Irene-Louise van Wyk se kêrel haar verras het.

“My pa (Louis van Wyk) het vir ons ’n persoonlike afrigter aangestel en ek en hy en my stiefma (Monica van Wyk) oefen nou gereeld saam. Aan die begin het ek gedink dit gaan weird wees, maar nou hou ek daarvan.

“Ek voel in my kop is dit reg. Ek wil in my droomrok pas en nie op my troudag die hele tyd vir die fotograaf vra of die angle reg is nie,” sê Van Wyk, wat in die verlede deurgeloop het onder beledigings oor haar voller figuur.

Sy het lankal haar lyf aanvaar en moedig ander vroue aan om dieselfde te doen.

Sy gaan binnekort ook weer saam met die aktrise Leandie du Randt Bosch optree as deel van hul motiveringspraatjie “No one can beat you at being you”, waar Van Wyk ook treffers van haar CD Sjampanje sal sing.

Hou hul Facebook-blad dop vir meer inligting.
suzanne.venter@rapport.co.za

Meer oor:  Sangeres
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.