Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘Is my pappa nog dood?’ vra 3-jarige ná aanval

“Is my pappa nog dood?”

So het die driejarige seuntjie van ’n boer wat Saterdagaand koelbloedig op ’n plaas tussen Hoopstad en Bloemhof doodgeskiet is, Sondagoggend gevra toe hy wakker word.

Janus Powell minute voordat hy Saterdag op ’n plaas buite Hoopstad vermoor is.

Janus Powell (37) is voor sy ouers, Antoon en Tharina, en sy vrou, Anemie, dood.

“Ek kan vir niemand beskryf hoe erg dit is nie. Dit is ’n gesig wat ’n mens nooit sal vergeet nie,” het Tharina Maandag gesê.

JJ (3) het in die plaashuis geslaap toe sy pa Saterdag omstreeks 18:00 vermoor is.

Anemie het later die aand vir hom probeer verduidelik dat sy pa doodgeskiet is. Tharina sê haar kleinseun het geantwoord: “Ek het nie gesien dat my pappa doodgaan nie.” Hy het toe vir sy huilende ma gevra of hy vir haar ’n “tissue” kan gee.

Tharina en Antoon woon buite Brits en het vir die Paasnaweek by hul seun op die plaas Rietvlei gekuier.

Vyf mans, glo geklee in polisie-uniforms, het in ’n Toyota Camry met ’n blou lig op die dak by die plaas opgedaag. Een van dié mans, wat ’n polisie-glimbaadjie aangehad het, is ook doodgeskiet.

Powell het met wild en beeste vir ’n Chinese burger op die plaas geboer. Die groep mans is eers na die Chinese man se huis en het in Afrikaans met hom gepraat. Hy het hulle na Powell se huis op die plaas gestuur omdat hy nie Afrikaans verstaan nie.

“Janus het net klaar sy vleisbraaivuurtjie aangesteek toe bel sy baas en sê hy moet die mense by die hek gaan help,” sê Tharina.

Janus Powell
Janus Powell en sy seun, JJ (3). Foto: Facebook

Powell is na die hek met sy vuurwapen en het kort daarna sy vrou gebel en gesê sy pa en ’n vriend, Nico van Onselen, wat ook op die plaas gekuier het, moet na die hek toe kom.

Toe Antoon en Nico by die hek 1 km van die huis af kom, het Powell se Toyota Land Cruiser aan die binnekant van die hek, wat op ’n skreef oop was, gestaan. Die Toyota Camry het in die teerpad by die ingang na die plaas gestaan. Vier van die mans het in die Toyota Camry weggejaag.

Antoon het sy seun op die grond sien lê en hy het gevra wat gebeur het. “Al wat hy kon uitkry, is: ‘Ek weet nie, ek weet nie’.”

Anemie en Janus Powell. Foto: Facebook

Antoon het Tharina gebel en gesê sy en Anemie moet dadelik kom. ’n Dokter en ambulans is ook ontbied.

“Hy het gesê hy sukkel om asem te kry en ons het hom probeer rustig hou. Net nadat die dokter opgedaag het, het hy sy laaste asem uitgeblaas. Die dokter het gesê hy is in sy hart en longe geskiet, so hy sou dit nie maak nie,” sê Tharina.

Anemie is uiters geskok ná die moord op haar man. “Sy sê sy weet nie hoe sy gaan aangaan nie. Janus en JJ was baie geheg. JJ word in Julie vier jaar oud en nou gaan sy pa nie hier wees nie,” sê Tharina.

Johann Lewis, ’n vriend van Powell, het op Facebook gesê: “Ons kan nie langer stilbly oor plaasmoorde nie. Nog ’n seun wat sonder ’n pa moet grootword.”

Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê daar was landwyd nege plaasaanvalle die Paasnaweek.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê hulle weet nog nie wie die ander man is wat doodgeskiet is nie.

Thakeng sê ’n ondersoek word gedoen oor of die groep mans polisielede is en of hulle net voorgegee het dat hulle in die polisie is. “Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

’n Wapen van Powell is gesteel.

Meer oor:  Janus Powell  |  Hoopstad  |  Brits  |  Plaasaanval  |  Doodgeskiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.