Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
It’s Time: Here gee opdrag vir boorgat se boor

’n Boorgat van die Here.

Dít is hoe mense wat Vrydag reeds hul kampeerplekke op die It’s Time-gebedsbyeenkoms naby Bloemfontein gereed gekry het, ’n wonderwerk beskryf wat Donderdagaand voor hulle plaasgevind het.

’n Onbekende man het ’n boodskap van die Here ontvang om alles te los en die pad te volg wat Hy vir hom aanwys om ’n boorgat te gaan boor – want die Vrystaat het water nodig.

Hy het op die terrein waar die byeenkoms plaasvind, geboor en ’n aar raakgeboor. In ’n video-opname kan ’n mens sien hoe die water uitspuit.

Hardus Zevenster, mediabeampte van die byeenkoms, het die voorval bevestig.

“Dit is waar. Hy het al drie keer hier geboor. Die derde keer het die gat geval en daar het water uitgespuit,” sê hy.

Die inligting dat die plaas al geslagte sonder enige water is, is egter onwaar.

“Die plaas het reeds twee boorgate. Die man het net dié derde gat geboor omdat dit ’n opdrag van die Here was.”

Zevenster sê hy weet nie wie die man is nie en wou ook nie die boer se naam noem nie, omdat hy anoniem wil bly.

“Dié boorgat is net een van tientalle wonderwerke wat al die afgelope paar weke plaasgevind het.”

Met Netwerk24 se besoek aan die terrein Vrydag was die groot skerms wat oor die terrein heen aangebring is, reeds in wording en die verhoog indrukwekkend.

“Die hele byeenkoms is eintlik ’n massiewe ingryping van die Here, want normaalweg sal so ’n geleentheid nie binne weke gereël kan word nie.”

Deurdat alles – van die grond tot die klanktoerusting en arbeid – geskenk en dus verniet is, is dit ’n massiewe seëning.

“Ek is al 12 jaar in die mediabedryf en het nog nooit gesien die liggaam van Christus werk só saam nie,” sê Zevenster.

“Daarom wil ek nie een wonderwerk uitlig nie, want die hele byeenkoms is een groot wonderwerk.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.