Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Ivan Meyer: Cyril ‘moet ruggraat kry’ oor plaasmoorde
Betogers neem Sondag in Kaapstad deel aan ’n protesoptog teen plaasmoorde na die parlement. Foto: JACO MARAIS

Pres. Cyril Ramaphosa moet “ ’n ruggraat kry” en plaasmoorde in Suid-Afrika onmiddellik stop.

Dít was Sondag die boodskap van dr. Ivan Meyer, tussentydse federale voorsitter van die DA en Wes-Kaapse LUR vir landbou, op die saamtrek van die Swart Maandag-beweging teen plaasmoorde voor die hekke van die parlement.

Meyer sê die DA het die saamtrek bygewoon in solidariteit met wit en swart boere en plaaswerkers, sowel as hul families, wat in vrees in Suid-Afrika leef.

“Ons is vandag hier by die parlement omdat die president en LP’s ontken dat boere en plaaswerkers aangeval en vermoor word.

“Meneer die president, skrik wakker en ruik die bloed van boere oor die hele Suid-Afrika.”

Volgens Meyer bloei sy hart vir boere landwyd, veral omdat hy self al op die toneel van plaasmoorde was.

Suid-Afrika, kom ons staan saam met ons boere, plaaswerkers en hul families.
Motorfietsryers was Sondag ook deel van die optog teen plaasmoorde na die parlement. Foto: JACO MARAIS

Nie net die aanvalle ontstel nie, maar ook die wreedheid daarvan teen hardwerkende mans en vroue.

“Al wat hulle vra, is dat plaasaanvalle gestop word.”

Volgens Meyer produseer boere en plaaswerkers die kosmandjie van Suid-Afrika, maar plaasmoorde kan ’n regstreekse impak op voedselsekerheid en stabiliteit oor die hele Afrika hê omdat 50% van die land se landbouprodukte na die res van die vasteland uitgevoer word.

“As voorsitter van die Afrika-Unie moet u dus plaasmoorde in Suid-Afrika veroordeel om voedselsekerheid in Afrika te beskerm.

“Meneer die president, hierdie boere is jou sleutel tot ekonomiese herstel in Suid-Afrika. Sonder hierdie boere is daar geen ekonomiese herstel nie.”

Meneer die president, skrik wakker en ruik die bloed van boere oor die hele Suid-Afrika.
Betogers trek Sondag by die parlement saam teen plaasmoorde. Foto: JACO MARAIS

Meyer het Ramaphosa versoek om plaasmoorde tot prioriteitsmisdaad te verklaar en die polisie in landelike gebiede te bemagtig met meer toerusting en hulpbronne om hul werk doeltreffender te kan doen.

Hy eis ook dat plaasaanvalle doeltreffend in die strafregstelsel gemonitor word, dat plaasbuurtwagte met hulpbronne, toerusting en elektroniese kameras ondersteun word, terwyl ’n belastingkorting op alle veiligheidsuitgawes van boere op hul plase toegestaan moet word.

“Dit kan nie langer so aangaan nie. Een moord is een te veel. Ons harte is vandag seer, want die mense wat kos op ons tafel plaas, word wreedaardig in Suid-Afrika vermoor.

’n Trekker was ook Sondag deel van die optog teen plaasmoorde na die parlement. Foto: JACO MARAIS

“Suid-Afrika, kom ons staan saam met ons boere, plaaswerkers en hul families.”

’n Minuut van stilte is gedurende die saamtrek gehandhaaf vir alle boere, veral dié in die Vrystaat, Noordwes en die Noord-Kaap “wat brandstigting ervaar het”.

“Hier in die Wes-Kaap is ons boere, ons landbouers en plaaswerkers, ons strategiese vennoot. In die Wes-Kaap dra landbou 11% by tot die ekonomie en daarom gaan ek nie plaasaanvalle en moorde in die Wes-Kaap duld nie.

“ ’n Aanval op ’n boer en plaaswerker is ’n aanval op die ekonomie van die Wes-Kaap en dit gaan ek nie toelaat nie.

“Ek salueer alle boere, landbouers en plaaswerkers oor die hele Suid-Afrika.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ivan Meyer  |  Plaasmoorde
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.