Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
KYK: Afskeid van taalreus Jaap Steyn

Prof. Jaap Steyn (83) se nederigheid en sy erkenning, dankbaarheid en bewondering vir ander mense terwyl hy die groot skrywer was wat baie pryse verower het, is op sy roudiens uitgelig.

Letterkundiges, kollegas, vriende en familie het op sy roudiens in die NG kerk Heuwelkruin in Heuwelsig, Bloemfontein, hulde gebring aan die bekroonde Afrikaanse akademikus, skrywer, biograaf, joernalis en groot taalvegter.

Van die besittings eie aan hom is in die voorportaal van die kerk uitgestal: Sy outobiografie, Sonkyker, sy biografie oor N.P. van Wyk Louw, ’n skrywer wat hy bewonder het, sy sakboekie en pen, en die laaste uitgawe van die gedrukte Volksblad met sy vergrootglas op.

Laaste eerbetoon aan ’n groot Afrikaanse skrywer, akademikus, taalvegter en geliefde familielid. Ria Muller, sy suster, strooi roosblare op die kis van prof. Jaap Steyn (83) voor die NG kerk Heuwelkruin in Heuwelsig, Bloemfontein. Hy is verlede week dood. Van links is Marthie Kemp, susterskind, haar seun, Stephan, ds. Anton Meiring, wat die roudiens gelei het, en die begrafnisondernemer. Foto: Charles Smith

“Afskeid is hartseer en aaklig,” lui die opskrif van die hoofberig oor die einde van die papierkoerant waarin hy ook aangehaal is. Ria Muller, sy suster, sê dié dag was die ergste in sy lewe.

“Ek het elke dag die koerant vir hom van voor tot agter gelees. Hy het alles ingeneem. En ook baie met sy vergrootglas gelees. Daardie dag toe die koerant nie meer op straat verskyn het nie, was die slegste dag in sy hele lewe.”

Die familie neem hier afskeid van prof. Jaap Steyn. Van links is Ria Muller, sy suster, Marthie Kemp, susterskind, en haar seun, Stephan. Regs is ds. Anton Meiring, wat die roudiens gelei het. Foto: Charles Smith

Ds. Anton Meiring het in sy boodskap na Steyn se “verstommende nederigheid” verwys. Hy sou altyd dankie sê vir ander en geskenke soos ’n varsgebakte brood stuur vir mense wat hom gehelp het.

“Die roem kom my en jou nie toe nie. Die roem kom inderdaad God toe soos professor Jaap gelewe het. Daarom die verstommende nederigheid, die verstommende erkenning teenoor ander, die verstommende dankbaarheid teenoor ander, die verstommende bewondering teenoor ander.”

Hy het gesê dit is goed om te sien hoe daar ook nie in die departement Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), waar Steyn ’n navorsingsgenoot was, neergesien word op ander nie, net soos Steyn gelewe het. “Daar is waardering, respek en erkenning.”

Meiring het gesê die Here het ons ’n rolmodel gegee om oor ons eie lewe na te dink.

Prof. Angelique van Niekerk, departementshoof oor wie se geskiedenis Steyn besig was om te skryf, het ook sy dankbaarheid, nederigheid en onverpoosde harde werk uitgelig. Hy het die Vrydag toe hy siek geword het nog die laaste e-posboodskappe aan almal gestuur voordat hy hospitaal toe is.

Prof. Bernard Odendaal, digter en vriend, het gesê Steyn, “wat die grammatika van liefhê en van vriendskap so deeglik onder die knie gehad het, se lewe is myns insiens soos ’n volsin, een wat nou tot voltooiing gekom het. Uitmuntend veelseggend.”

Hy het verwys na Steyn se digbundel Die grammatika van liefhê (1975) wat skoot vir skoot vermeld word as ’n toetssteen vir die geslaagdheid, al dan nie, van taalvernuf en -ontginning waar dit in nuwe digbundels opval.

Van prof. Jaap Steyn se kosbare besittings was in die voorportaal van die NG kerk Heuwelkruin in Heuwelsig, Bloemfontein, waar sy roudiens gehou is. Hy is op Maandag 6 September in sy huis in Heuwelsig dood. Hier is sy pet, notaboekie en pen, outobiografie, ‘Sonkyker’, biografie van N.P. van Wyk Louw en die laaste gedrukte uitgawe van Volksblad. Sy suster, Ria Muller, het elke dag die koerant vir hom gelees. Foto: Charles Smith

’n Spesiale huldigingsbundel is deur die departement Afrikaans en Nederlands oor Steyn uitgegee. Daarin is ook bydraes deur Daniël Hugo, prof. Hennie van Coller, die FAK, Albe Grobbelaar, Joan Hambidge, prof. Naomi Morgan en Henning Pieterse en onder meer hierdie gedig deur die digter en vriend Hans du Plessis:

EK GROET

Ek mis jou al klaar, vriend Jaap:

die son van ons helder reise,

die bros stilte van jou praat,

die ysskerp insig van jou lees

en die bloeisels van jou gees,

nogtans gun ek jou die Seisoen

waar jy in rus en vrede slaap.

Meer oor:  Jaap Steyn  |  Letterkundige  |  Roudiens  |  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.