Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jacques de Coning sterf in ongeluk 5 jaar ná sy seun
Jacques de Coning
Jacques de Coning Foto: www.jacquesdeconing.co.za

Die sanger en liedjieskrywer Jacques de Coning (52) was gebroke toe sy seun vyf jaar gelede in ’n motorongeluk dood is – en Sondagoggend het dieselfde met hom gebeur.

De Coning is omstreeks 10:30 dood in ’n ongeluk op die pad tussen Alexandria en Boesmansrivier in die Oos-Kaap.

Hy was alleen in die motor toe hy reg van voor teen ’n aankomende motor gebots het.

Dié gewilde sanger was veral bekend vir sy vertolking van bekende FAK-liedjies. Van sy grootste treffers was "Girl van die Klein Karoo" (2001) en "Grootvoël Paradys" (2006). Hy het ook verskeie eerbewyse ontvang vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek.

Jacques de Coning, in die middel onder, toe hy saam met ’n groep kunstenaars en Dozi opgetree het.Foto: www.jacquesdeconing.co.za

Lydia Winchester, woordvoerder vir De Coning, het gesê De Coning en sy vrou, Lynn, moes in 2014 die tragedie verwerk toe hul 24-jarige seun, Bazil, in ’n motorongeluk in Port Elizabeth dood is.

Lynn was Sondag te geskok om oor haar man se skielike dood te praat. Sy het nou net haar dogter, Joani, oor.

“Sy saggeaardheid en nederigheid sal ons altyd bybly. Hy los ’n groot leemte in die musiekbedryf,” het Winchester gesê.

Die sanger en TV-aanbieder Willem Botha het De Coning onthou as 'n “gentle soul”.

“Ek kan nie aan die KKNK dink sonder dat Jacques de Coning in my gedagtes opkom nie. Hy is iemand met ’n sagte hart, wat altyd tyd gemaak het vir ’n vinnige gesels. En vol grappies! Dis ’n hartseerdag vir die Afrikaanse musiekbedryf,” het Botha gesê.

Die De Coning-egpaar was die eienaars van die Bushmans Bar & Grill op Kenton-on-Sea.

Jacques de Coning en sy pa, Basil de Coning. Basil is vroeër vanjaar oorlede.Foto: Facebook

Kapt. Mali Govender, polisiewoordvoerder, sê ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.

Sy het bevestig De Coning is op slag dood in die botsing reg van voor op die R72 tussen Alexandria en Kenton-on-Sea. Die bestuurder van die ander voertuig is in ’n kritieke toestand in ’n hospitaal opgeneem.

De Coning kom uit ’n bekende rugbyfamilie. Sy pa, Basil, wat 72 keer vir die Oostelike Provinsie uitgedraf het, is op 17 Februarie vanjaar aan sy hart oorlede.

Sy broer, ook Basil, het ook vir die OP gespeel.

De Coning het op 18 Februarie vanjaar op sy Facebook-blad ’n inskrywing gemaak oor sy pa: “Die grootste boom wat ek ken, het geval . . . naas Liewe Jesus is dit die man vir wie ek die meeste respek gehad het. Pappa ken nou die waarheid en mag Pappa pynloos en in liefde in Jesus se arms slaap. Jou wens is bewaarheid. Rus in vrede. Jou seun Jacques de Coning.”

Meer oor:  Jacques De Coning  |  Verongeluk  |  Sanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.