Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
Jag word nou op VBS se trawante gemaak

Strafregtelike aanklagte is teen die 50 mense ingedien wat na bewering miljarde rande van VBS Mutual Bank geplunder het.

Die DA het Donderdag die klagte by die Kaapstad Sentraal Polisiekantoor ingedien.

Dít volg op ’n aanbeveling in ’n verdoemende forensiese verslag dat strafregtelike klagte ingedien moet word teen diegene wat geïmpliseer word in die plundering van die bank ten bedrae van sowat R1,9 miljard.

Adv. Terry Motau SC, wat deur die Reserwebank se Omsigtigheidsowerheid aangestel is om VBS te ondersoek, het in sy verslag “The Great Bank Heist” bevind dat VBS nie gered kan word nie en gelikwideer moet word.

Geen genade moet aan dié misdadigers getoon word nie en daar moet op hul bates beslag gelê word om ’n duidelike boodskap aan alle toekomstige misdadigers te stuur.

Onder die prominente mense wat in die verslag geïdentifiseer is, is Danny Msiza, ANC-tesourier van Limpopo, en Brian Shivambu, broer van Floyd Shivambu, EFF-onderleier.

Kevin Mileham, DA-LP, wat die klagte van korrupsie teen die 50 mense ingedien het, het gesê die skandaal hou onherstelbare gevolge in vir ontelbare arm Suid-Afrikaners.

“Die DA glo dat politici en diegene naby aan politici soos Floyd en Brian Shivambu en Danny Msiza, ANC-tesourier van Limpopo, nie net ondersoek moet word vir hul persoonlike betrokkenheid nie, maar dat die politieke partye waarmee hulle verbind word in die openbaar moet bevestig of hulle geld van VBS ontvang het of nie.”

Dali Mpofu, EFF-voorsitter, het aan eNCA gesê die EFF het geen geld van VBS ontvang nie.

Die ANC sê op sy beurt in ’n verklaring die verslag dui op “growwe misbruik van gesag en kommerwekkende voorvalle van korrupsie”.

Pule Mabe, ANC-woordvoerder, sê die verslag is verontrustend en het die rol beklemtoon van ’n reeks individue en instellings “in dié afskuwelike voorvalle”.

“Die ANC hou vol dat waar daar kwaaddoenery deur individue en instellings was, koppe moet rol en die reg sy gang moet gaan sonder aansien des persoons.”

Ander opposisiepartye maak ook voorbrand vir optrede teen VBS.

Die IVP vra dat ’n spesiale hof wat korrupsiesake moet aanhoor, op die been gebring word en doen ’n beroep op ’n teenkorrupsietaakspan van die regering om alle amptenare en lede van die ANC en EFF wat in die verslag geïmpliseer word, te ondersoek.

Mkhuleko Hlengwa, IVP-woordvoerder, sê die ANC in Limpopo moet ook ondersoek word, asook alle munisipale bestuurders wat deposito’s aan VBS gemaak het.

“Verder is ons bekommerd oor die huislening om die verbandkoste vir Nkandla te betaal wat oudpres. Jacob Zuma van VBS ontvang het – dié transaksie word nou bevraagteken en moet ook deur die teenkorrupsietaakspan ondersoek word,” sê Hlengwa.

Die SAKP eis ook optrede teen VBS.

“Die SAKP veroordeel sterk die plundery en die korrupsie van die korporatiewe kaping van die staat wat die roekelose diefstal van belastingbetalers se hulpbronne en die fondse van die werkersklas gefasiliteer het.”

Besliste optrede moet volgens die SAKP ook gedoen word teen ouditeursfirmas soos KPMG en diegene wat betrokke is in die ouditering van die finansies van munisipaliteite wat in VBS belê het.

Cosatu, wat met “afstoot” kennis neem van die “walglike korrupsie” wat by VBS plaasgevind het, doen ’n beroep op wetstoepassingsagentskappe om beslis teen die skuldiges op te tree.

“Geen genade moet aan dié misdadigers getoon word nie en daar moet op hul bates beslag gelê word om ’n duidelike boodskap aan alle toekomstige misdadigers te stuur.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.